GEORGE NUUS - Vir 21 jaar wag Lorraine van Schalkwyk van Blanco vir 'n huis, en elke keer word sy teleurgestel en gesê sy moet wag vir die volgende behuisingsgeleentheid. Van Schalkwyk is nou mooi keelvol en wil weet hoekom ander mense altyd voor haar goedkeuring kry.
Sy het onlangs weer die behuisings-kantoor in Blanco besoek om die nuutste uit te vind oor haar aansoek.
"Ek het gaan vra vir my aansoek en die vrou moes dit tussen 'n klomp dokumente wat op haar tafel gelê het soek. Ek het vir haar gesê ek wil dit hê. Sy wou nog praat oor hoe ek my kans gaan verbeur, maar na al die jare het ek nie veel hoop nie."
Van Schalkwyk was egter geskok om uit te vind dat 'n man van Rosemoor se dokumente aan haar papiere vasgeheg was. "Sou dit beteken dat die man my geleentheid vir 'n huis sou kry, of was dit iemand se nalatigheid," vra sy haarself af.
Haar pleidooi raak ook haar seun (20) wat 'n kankerlyer is en met wie sy 'n tweeslaapkamer Wendy-huis deel.
"Dis mos nie reg om jou privaatheid met jou seun, wat al 'n man is, te deel nie. En waar ons bly is 'n gesondheidsrisiko vir hom." Daar is twee rioolgate, een voor en een langs die huis.
Van Schalkwyk sê dit loop enige dag oor en veroorsaak dat haar seun verskriklik siek raak.
Charles Lubbe, die direkteur van menslike nedersettings, het in reaksie gesê die George-munisipaliteit is tans besig om aandag te gee aan Van Schalkwyk se pleidooi. Daar sal ook 'n verslag by die sosiale behuisingskomitee ingedien word vir goedkeuring vir 'n behuisingsgeleentheid.
"Die munisipaliteit het dit ook so aan Van Schalkwyk verduidelik. Die verslag sal gedurende die maand van Julie dien." Maar Van Schalkwyk sê sy het van die verslag te hore gekom na sy George Herald om hulp genader het. "Nou stel hulle ewe skielik belang in my saak. Dis omdat hulle aangejaag het," het sy gesê.
By verdere navraag het die munisipaliteit bevestig dat hierdie saak aandag geniet. Hulle het gesê die uitslag waarna Lubbe hierbo verwys, sal aan Van Schalkwyk persoonlik bekendgemaak word wanneer dit beskikbaar is.
Ook sê die munisipaliteit dat Van Schalkwyk die behuisingskantoor se hoofkantoor in Varingstraat (agter die munisipaliteit se hoofgebou in Yorkstraat) kan gaan sien indien sy dit verder wil bespreek.
'Ons bring jou die nuuste George, Tuinroete nuus'