GEORGE NUUS - Drie dae is darem te lank om suiwer water so te laat wegloop. Dit is die woorde van 'n besorgde inwoner van Bergsig, wat verlede naweek sy buurman bygestaan het toe 'n waterpyp in Cathcartstraat probleme gee.
Volgens Johan Kemp, 'n voormalige hoofdirekteur van gesondheids- en gemeenskapsdienste by die Garden Route-distriksmunisipaliteit, is die lekkasie vir die eerste keer verlede Vrydagoggend waargeneem.
George-munisipaliteit is in kennis gestel en het Sondag kom ondersoek instel. Die probleem is glo Sondagaand opgelos, maar vir drie dae het gesuiwerde water in die straat afgeloop.
Henry Jansen, adjunkdirekteur van siviele ingenieursdienste, het by navraag gesê die klagte is volgens hul rekords eers verlede Saterdag as 'n lekkasie by 'n verbinding aangemeld. "Verbindingslekkasies ontvang tweede prioriteit bo gebarste hoofwaterpype," het hy gesê.
"Die klagte het Sondagoggend aandag ontvang nadat die spanne hoofpypbarste elders herstel het. Die lekkasie is veroorsaak deur boomwortels bo-op die hoofwaterpyp. Die uitleg van die pypstelsel maak dit moontlik om dele van die netwerk af te sonder, indien nodig, vir onderhouds- of herstelwerk."
Volgens Kemp het die teer in die straat tekens van versadiging getoon namate die water ondergronds versprei het. "Daar waar 'n mens so 'n groot hoeveelheid water ondergronds kry is die grond geneig om te sak. Ons is maar almal 'n bietjie skrikkerig," het hy gesê. "Bergsig is een van die ouer uitbreidings in die dorp, saam met die infrastruktuur. Die pype kan verder seerkry. Ons het ons bekommernisse."
Die waterpyp het vermoedelik Donderdagaand gebars, maar is eers Vrydagoggend opgemerk. Water het vir dae aaneen gevloei.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'