OUDTSHOORN | GEORGE NUUS - Die liggaam wat verlede naweek in George langs 'n rivier in 'n park gevind is, is gisteroggend uitgeken as die oorskot van Charlotte Frans (48) van Oudtshoorn wat in Mei verdwyn het.
Haar liggaam is langs 'n rivier in die Van Riebeeck-tuine in die omgewing van die George-hospitaal gevind.
Die Oudtshoorn Courant het Woensdag reeds in ligting ontvang wat daarop gedui het dat dit moontlik die liggaam van die vermiste Frans is, maar dit is gisteroggend deurdie polisie bevestig. Kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gister gesê: "Die vermiste vrou se familie is vanoggend (Donderdag) in George en het die liggaam aan haar klere en 'n armband wat sy aangehad het uitgeken. Hulle het ook na haar mediese geskiedenis gekyk om te help met die uitkenningsproses."
Die George Herald, die Oudtshoorn Courant se susterskoerant, het dié week berig 'n hawelose man het op die ontbinde liggaam in die park afgekom en die polisie in kennis gestel. Volgens Pojie kan daar nog nie gesê word wat die oorsaak van haar dood was of hoe lank sy oorlede is nie.
"Hulle is nog besig met die nadoodse ondersoek, maar omdat die liggaam in 'n gevorderde stadium van ontbinding was, is dit moeilik om te bepaal."
Die Oudtshoorn Courant het in Meimaand berig dat Frans uit die George-hospitaal vermis geraak het na sy 'n breinoperasie ondergaan het.
Caroline Damons (70), Frans se ma, het gesê haar dogter het skielik siek geraak en was verskeie kere hospitaal toe waarna sy uiteindelik op 20 Mei na George-hospitaal oorgeplaas is.
"Sy het glo bloeding op die brein gehad en hulle het haar dieselfde dag nog in George geopereer. Sy was in ICU en ek was by haar. Sy was vreeslik deurmekaar en daarom het hulle haar voete en hande vasgebind. Sy moes op 'n manier losgekom het."
Damons het gesê sy het aan die slaap geraak en toe sy wakker word was Frans weg.
Frans se broer, Raymond, was na die voorval by die George-hospitaal. Volgens hom kan daar op die videobeeldmateriaal gesien word hoe sy uit die intensiewesorgeenheid loop en by die voordeur van die hospitaal uitstap.
Die Oudtshoorn Courant het Donderdagoggend vlugtig met Raymond gepraat, waar hy bevestig het dat dit wel sy suster se liggaam is wat die familie uitgeken het.
Charlotte Frans
Lees 'n verwante artikel: Ontbinde liggaam in park gevind
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo nuus'