TUINROETE NUUS - Terwyl duisende vakansiegangers en inwoners die afgelope weke ingevolge Covid-19 regulasies nie hul tone in die seewater kon steek en sagte seesand onder hul voete kon voel nie, was daar by al die groot strande lewensredders.
Polisiebeamptes het die strande gereeld gepatrolleer. Tot 28 Desember kon rivermondings nog wettig besoek word en die Kaaimansriviermond het heelwat besoekers gehad. Hier en daar het mense dit tog gewaag om in die see te swem en op strande te gaan as die polisie nie teenwoordig was nie.
Die munisipaliteit se besluit om steeds lewensredders op strande te ontplooi terwyl strande verbode is, is wyd bevraagteken.
Neels Barnard, hoof van George-munisipaliteit se brandweer- en reddingsdienste, sê lewensredders was reeds aangestel voordat die regulasies gewysig is. Ná die president se aankondiging is die aantal lewensredders wat by die ses strande onder George-munisipaliteit se beheer diens doen, van 49 per dag afgeskaal na 19 per dag.
Die boodskap oor die gevaar van Kovid-19 is op strande onder die aandag van vakansiegangers en inwoners gebring. Hierdie plakkaat was by Heroldsbaai. Foto: Eugene Gunning
"Daar is besluit om lewensredders as 'n voorsorgmaatreël by strande te hou en dit blyk dat laasgenoemde 'n wyse besluit was gegewe die aantal lewens wat tot op hede gered is," het Barnard gesê.
Tot dusver is 85 verdrinkings voorkom vanweë die teenwoordigheid van die lewensredders.
Lewensredders word deur die munisipaliteit op kontrak aangestel en betaal, en word bestuur deur die brandweer- en reddingseenheid.
Die lewensredders sal tot die einde van Januarie op die strande diens doen.
* Die ses strande is Wildernis-hoofstrand, Steps, Leentjiesklip, Victoriabaai, Heroldsbaai en Gwaiingriviermond.
Sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie is in die Suid-Kaap ontplooi om deel te neem aan misdaadvoorkomingsoperasies. Dit gaan voort en meer inligting sal bekend gemaak word wanneer die operasies afgehandel is.
Polisiebeamptes patrolleer die strand by Heroldsbaai tydens die vakansie.
Geel polisielint versper toegang tot die strand by Swartvlei naby Sedgefield tydens die vakansietyd.
'n Strand by Wilderness is verlate tydens die vakansieseisoen.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'