GEORGE NUUS - “Dis 'n baie groot eer en daar is baie uitdagings wat wag.” So het Leon van Wyk, wat waarskynlik George se nuwe burgemeester gaan word, vanmiddag gesê.
Die DA het vanmiddag bekend gemaak dat Van Wyk sy kandidaat is om die vakante pos te vul. 'n Raadsvergadering sal egter eers gehou moet word want net 'n stadsraad kan 'n burgemeester kies.
Dit behoort wel deur te gaan want die DA het ‘n meerderheid in die raad en dis ook moontlik dat van die opposisie partye Van Wyk se kandidatuur sal steun.
Die 64-jarige Van Wyk word beskou as iemand met 'n fyn aanvoeling vir die ekonomie en die sakewêreld.
“Ek is vol vertroue dat ons die skip sal kan omdraai,” het hy telefonies aan die George Herald gesê. Een van sy prioriteite sal die ekonomie wees. Dit sluit in hoe die hele kwessie van werkskepping aandag moet kry. Hy wil ook kyk hoe 'n beter lewe vir almal verseker kan word.
Volgens Van Wyk moet dit vir almal aangenaam wees om in George te kan woon en 'n goeie lewenstyl te kan geniet.
As hy wel tot die pos verkies word sal hy burgemeester wees vir almal - ongeag hul politieke oortuigings.
Hy sal ook poog om die vertroue van die kiesers terug te wen.
Sy leierskapstyl is inklusief. "Daar is baie werk en een persoon kan dit nie alleen doen nie. Dit sal 'n spanpoging moet wees," het Van Wyk gesê.
- Gerrit Pretorius, speaker van die stadsraad, het gesê dit sal ‘n aanlyn-vergadering moet wees. Daar word aan planne in die rigting gewerk en dit sal so gou moontlik plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'