GEORGE NUUS - Leon Burger (74), wie se vrou, Belia, 'n jaar gelede onderweg vanaf Namibië met haar kop op sy skoot oorlede is, is Saterdag tydens 'n gedenkdiens by die Outeniqua-rolbalklub deur sy familie en vriende gegroet. Hy is op Maandag 9 April oorlede.
Leon is in die intensiewesorgeenheid opgeneem na hy skielik siek geword het, maar is 'n paar dae later oorlede terwyl medici nog kopgekrap het oor die oorsaak van sy skielike terugslag. Verskeie toetse is op hom gedoen, maar hy is oorlede voordat al die toetse afgehandel is.
Vir sy twee kinders, Pieter Burger en Susan Meyer, is sy dood 'n groot raaisel.
Toe hy die oggend in Susan se kantoor instap, het sy gesien daar is groot fout en hom dadelik dokter toe geneem vanwaar hy in die waakeenheid opgeneem is. Vier dae later het sy dood sy familielede en vriende geskok omdat baie nie eens geweet het dat hy in die hospitaal was nie.
Sedert Leon in 1987 vanaf Paarl na George verhuis het, het hy 'n kleurryke lewe gehad en was versot op sport en motors. Hy het sy belangstellings en stokperdjies met oorgawe uitgeleef. Hy was voorsitter van die George-motorklub, senior rugbyskeidsregter en 'n geesdriftige rolbalspeler en-afrigter. Hy het ook by verskeie geleenthede op die bestuur van die Outeniqua-rolbalklub gedien.
Van sy eienaardighede is dat hy al die Car Magazines, vanaf die heel eerste uitgawe, in sy motorhuis bewaar het. Hy het ook nooit 'n koerant gelees voordat hy nie die blaaie met 'n krammasjien aanmekaar gekram het nie.
'n Jaar gelede was hy en Belia saam met sy swaer, Gawie Malan, met besoek aan Namibië by die Malans se ouers. Met hul aankoms in Windhoek het sy ernstig siek geword en is in die hospitaal opgeneem. Op hul terugreis het haar toestand ernstig agteruitgegaan en het sy heelpad met haar kop op Leon se skoot agter in die voertuig gerus.
Sowat 'n uur nadat hulle die grens na Suid-Afrika oorgesteek het, is sy dood. Hy het daarop aangedring dat hulle aanhou ry omdat, soos hy dit gestel het: "Ek wou haar terug huis toe neem en nie in 'n vreemde dorp agterlaat nie".
Leon het heelpad tot in George met haar kop op sy skoot gesit.
Hy het sy vrou se dood moeilik verwerk en het haar erg gemis totdat hy 'n jaar later, op sy skoonseun Chris Meyer se verjaarsdag, in dieselfde klubhuis as sy vrou finaal gegroet is.
Behalwe twee kinders laat hy ook twee kleinkinders agter.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'