GEORGE NUUS - 'n Gereelde stem op EDENfm en eienaar van die Cool Gels-onderneming, Danie Fourie, is Vrydagmiddag in die ouderdom van 78 oorlede terwyl hy saam met een van sy geliefde vriende, Blyth Thompson, gholf gespeel het.
Hulle was op die derde putjie van die Three Chameleons-baan toe Fourie 'n hartaanval gehad het.
Thompson het agterna vertel: "Net voor dit gebeur het, het ons gesels en Danie het gesê dat mense wat die Here nie ken nie, verskriklik bang moet wees vir die dood.
Hy het gesê, 'Vat nou vir my, ek is glad nie bang nie.' " Hy het kort daarna, net nadat hy 'n goeie hou gespeel en vir die volgende hou aangelê het, skielik inmekaargesak. Hy is op die toneel dood verklaar.
Die twee vriende, wat saam 168 jaar oud is, het die jongmanne van die klub soms in kompetisies in die stof laat byt. 'Oom Danie', soos Fourie onder baie van sy klante bekend was, het alles wat hy aangepak het, met oorgawe gedoen. Hy was passievol om mense te dien en sy liefde vir ander het uitdrukking gevind in sy besigheid.
Fourie het in die Griekwastad-omgewing grootgeword en het sy pa op die brose ouderdom van ses jaar aan die dood afgestaan. Hy het sy loopbaan ná skool in die staatsdiens by die Kimberley-kantoor van die inkomstediens begin. Hy is in 1960 met Corrie Scherman getroud.
Met twee peuters in die huis, het Fourie buitemuurs 'n BA-graad in tale, 'n B.Ed- en M.Ed-graad verwerf, waarin Corrie 'n groot aandeel gehad het deur haar onbaatsugtige ondersteuning.
Hy het by Diamantveld Handelskool as Afrikaans-onderwyser begin skoolhou. Die gesin het in die middel 70's na George verhuis waar Fourie as adjunkhoof van Van Kervel aangestel is. Ná sy aftrede het hy as eiendomsagent gewerk en 'n dekade gelede die Cool Gels-onderneming saam met Danie jr. en sy vrou, Duppies begin.
Volgens sy gesin, was Fourie 'n gemeenskapsmens wie se onwrikbare geloof almal om hom aangeraak het. Die uitdagings wat hy met sy gesondheid gehad het, het hom nooit teruggehou om voluit te lewe en sy alles te gee nie.
'n Herinneringsdiens is gister, Woensdag 30 Augustus by die Shofar-gemeente gehou.
Hy laat sy vrou, Corrie, kinders en skoonkinders, Danie en Duppies Fourie en Alida en Joe de Beer, 'n suster, Sannie van Heerden, kleinkind Yadah Fourie, stiefkleinkinders Leanne en Aviwe Gxotiwe, en 'n agterkleinkind, Isaac Gxotiwe agter.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'