Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - In Amerika word die leesvermoë van kinders op 10-jarige ouderdom as een van die maatstawwe gebruik in die beplanning vir die aantal tronkselle waarvoor in die toekoms voorsiening gemaak moet word.
Hierdie werklikheid beklemtoon die belangrikheid daarvan om kinders se leesvaardigheid te ontwikkel, volgens die skrywer en spraakterapeut, Christien Neser.
Sy was een van 'n rits interessante sprekers wat Saterdag tydens 'n leersame leeskonferensie by Laerskool Pacaltsdorp gepraat het.
Onderwysers, ouers, oumas en ander belangstellendes wat betrokke is by leesondersteuning vir kinders het die konferensie bygewoon. Dit is aangebied deur die Vriende van Afrikaans ('n onderafdeling van die ATKV) in samewerking met die Wes-Kaapse departement van onderwys.
Die Pacaltsdorp ATKV-tak, Sommer Net Ons, het gasheer gespeel tydens die driedaagse program wat Donderdag by Eagle's Nest afgeskop het met 'n skryfwerksessie. Dit is opgevolg met 'n Doen en Leer-program Vrydag wat gekyk het na die ontwikkeling van taalvaardighede wat nodig is vir effektiewe leer.
VIDEO: Belangrikheid van lees in die kollig
Die gehoor het onder meer geleer hoe belangrik dit is om vir kinders voor te lees en hoe waardevol boeke is, hoe Lego gebruik kan word om konsentrasie en beweging te verbeter, en hoe maklik dit is om met die regte metodes 'n kind te leer lees.
Daar is ook gekyk na die gevolge van tegnologie en die uitdagings van kinders wat aan te veel skermtyd blootgestel word.
'n Motiveringspraatjie deur Rene Arendse het die konferensie op 'n gepaste noot afgesluit met 'n vermaning dat onderwysers na hulleself ook moet omsien en moet let op hulle eie persoonlike groei, sodat hulle effektiewe leiers kan wees wat ander leiers kan kweek.
Sy het hulle aangemoedig om nie te stagneer nie, maar altyd te streef na groei en verbetering.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’