GEORGE NUUS - Oud-Springbokrugbyspeler, Kobus Wiese, het tydens 'n besoek aan George verwysend na skolesport gesê daar is 'n groot vyand in die land en sy naam is ouer.
Wiese, deesdae sakeman en bekende televisie-aanbieder, het by 'n AfriForum- en AfriVriendelik verwys na die rol van ouers in byvoorbeeld hul kinders se sportprestasies en gesê ouers dink hulle kind moet hoofseun wees of vir die eerste span speel. Hy het ouers gevra om nie 'n verleentheid vir hul kinders te wees nie.
"Hou op om langs die veld die skeidsregter sleg te sê. Jy is 'n verleentheid vir jouself, die skool en die gemeenskap."
Na afloop van die geleentheid het hy aan George Herald gesê daar is baie druk op kinders om te presteer. Dit kom uit baie oorde soos die ouers, die skool en die gemeenskap.
Die druk op kinders is soms so groot dat selfdood by kinders voorkom. Hulle kan nie die druk hanteer nie. Ouers het 'n baie belangrike rol om te speel om die kinders te help.
Groot geld
Abrie de Swardt, bekende plaaslike sportadministrateur, stem saam daar is te veel druk op skoolvlak as gevolg van die byna professionele aard van skolesport.
In sekere kringe is dit algemeen bekend dat leerlinge na skole gelok word as gevolg van hul sportvermoë. Hulle ontvang beurse en is dan onder groot druk om op die sportveld te presteer.
De Swardt het benadruk hy verwys nie na enige spesifieke voorval nie en sê leerlinge is oor die algemeen onder druk om op die sportveld te presteer.
Hy sê sport is 'n fantastiese voorbereiding vir die lewe, maar dit moet in balans plaasvind.
Rugby in die besonder het meer professioneel geword. Daar is druk op opkomende spelers en hulle sal dinge doen om hulself groter en sterker te maak.
Sterk mededinging is aan die orde van die dag, maar uiteindelik is dit net 'n klein persentasie wat dit tot op die hoogste vlak maak.
Opkomende rugbyspelers word met beurse na universiteite en unie se rugby-akademies gelok. Deesdae word kinders selfs op hoërskool gewerf vir oorsese rugbyklubs.
Abrie de Swart, bekende sportadministrateur. Foto's: Eugene Gunning
Afrigters ook onder druk
Hy het gesê in 'n sin het skolesport professioneel geword. So byvoorbeeld lok van die toprugbyskole topafrigters met goeie vergoedingspakkette. Hulle is onder druk om te presteer.
Deesdae word talent selfs op laerskoolvlak, soos tydens Cravenweek, gesoek.
Voorts word jongsportmanne- en vroue van 'n jong ouderdom deur betrokkenes aangemoedig om te spesialiseer in 'n bepaalde sport. De Swardt glo 'n kind moet eerder deelneem aan 'n verskeidenheid sportsoorte.
"'n Kind moet dit geniet om aan sport deel te neem."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'