GEORGE NUUS - Die South African Water Warriors (SAWW) kry steun vanuit verskeie oorde.
Laerskool Hoekwil het SAWW aangeneem en die skoolhoof, Flippie Grobelaar, het 'n klaskompetisie geloods om water in te samel vir die Water Warriors se uitreik na Springbok in die Noord-Kaap vir droogte- en humanitêre bystand.
Graad 3- en 6-leerders van Hoekwil Laerskool het die kompetisie gewen deur gesamentlik 1 068 liter in te samel.
Juffroue Michele Beukes en Rozanne Smit moes vir een dag skooldrag dra terwyl hulle klasse in gewone drag skool toe kon kom.
Sas du Plessis, skoolhoof van Laerskool George-Suid, het nie op hom laat wag toe Laerskool Hoekwil hom uitdaag om hulle voorbeeld te volg nie.
Hy het sy graad 7's laat blikkieskos insamel vir die Water Warriors.
Pieter du Plessis van SAWW Suid-Kaap het die kinders en skoolhoofde bedank vir hulle pogings wat die uitreik na mense in droogtegeteisterde gebiede moontlik maak.
Die omruil van kleredrag vir een skooldag het vir groot pret gesorg. Juffroue Michele Beukes en Rozanne Smit sit voor in skooldrag terwyl hulle leerders in gewone drag klas toe gekom het.
Hoekwil Laerskool se hoof, Flippie Grobbelaar (middel) met die oorhandiging van die water wat sy leerders bymekaargemaak het saam met Armand de Lange (links), 'n boer van Geelhoutboom en vrywilliger vir SAWW, en Pieter du Plessis, hooforganiseerder van Suid-Kaap SAWW.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'