GEORGE NUUS - Die Early Act-klub van Laerskool Outeniqua het onlangs hul nuutste gemeenskapsprojek voltooi waartydens hulle babadoeke, babamelk en pap vir die kleintjies in die sorg van die ACVV ingesamel het.
"Ek het onlangs bewus geword van die spesiale werk wat die ACVV doen vir babas in pleegsorg," vertel Danielle Barnard, onderwyser en Early Act-koördineerder by Laerskool Outeniqua.
"Ons wou graag met hulle hande vat, maar ook erkenning verleen vir die spesiale werk wat hul doen. Ons Early Actors was meer as opgewasse vir die taak."
Voorts het Clicks 12 pakke babadoeke en Checkers 10 pakke ontbytgraan vir babas bygedra. In totaal was 105 pakke babadoeke, 105 kg formulemelk asook ontbytgraan vir babas bymekaargemaak.
Op 22 Mei is 'n spesiale seremonie tydens saalbyeenkoms by die skool gehou waartydens die voorrade oorhandig is.
Die ACVV is gestig in 1904, kort na die afloop van die Suid-Afrikaanse Oorlog, en het oor die jare uitgebrei vanaf nood-hulpverligting, primêre gesondheidsorg en opvoedkundige dienste na omvattende maatskaplike dienste asook beskermingsdienste vir kinders asook ouer persone.
Ciska van Rooyen van die ACVV spreek die skool toe.
Dr. Nico Venter, die hoof van Laerskool Outeniqua, sê deel van hul missie as 'n waardegedrewe skool is om hul leerders by te staan en te bemagtig om as aktiewe burgers 'n positiewe bydrae in ons samelewing mee te bring.
"En Early Act verskaf aan ons 'n manier om ons hieraan te verantwoord."
Di Kershaw, president van die George Rotariërklub, sê hulle is so trots om met die Outeniqua Early Actors geassosieer te word. "Hulle inisiatiewe verpersoonlik die leierskap, empatie en gemeenskapsbetrokkenheid wat ons land baie nodig het."
Early Act word by laerskole deur die internasionale Rotariër-diensorganisasie ondersteun en het as doel om geleenthede te verskaf aan jong leerders om aktiewe burgers te wees in a kultureel diverse samelewing in 'n interafhanklike wêreld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’