GEORGE NUUS - Die Rotary International-diensorganisasie en Laerskool Outeniqua het onlangs glimlagte gebring op kindergesigte.
Op Donderdag 23 Mei het die Early Act-klub by Laerskool Outeniqua hulle nuutste gemeenskapsprojek voltooi.
Early Act word by laerskole deur die Rotary International-diensorganisasie ondersteun en het as doel om geleenthede te verskaf aan jong leerders vir aktiewe burgerskap in a kultureel diverse samelewing in 'n interafhanklike wêreld.
"Ons het 'n paar jaar gelede bewus geword van die Wikkelwurms-projek by Bethesda," het Danielle Barnard, onderwyser en Early Act-koördineerder by Laerskool Outeniqua, vertel.
"Die inisiatief behels 'n stimulasieprojek vir kinders met ontwikkelingsagterstande tussen die ouderdomme van twee en ses jaar, met die kinders wat kom uit benadeelde gemeenskappe.
"Oor die afgelope paar jaar het ons verskeie kere na hierdie spesiale kinders uitgereik, en hierdie jaar wou ons weer iets spesiaals doen vir hulle. Ons Early Actors was meer as opgewasse vir die taak."
Die leerders by die Early Act-klub, bygestaan deur hul ouers, het inkleurboeke en DVD's vir die sentrum voorsien, klere gekoop en gemaak, koek gebak en ander snuisterye gereël vir die samekoms.
Van die Early Actors saam met twee Wikkelwurms.
Op die dag van die besoek het sowat 35 Early Actors by die Wikkelwurms-area by Bethesda aangekom, die koek en eetgoed asook geskenkpakkies aan die kinders uitgedeel, en toe met die kinders in die speelarea gespeel.
"Deel van ons missie as 'n skool is om emosionele en sosiale ondersteuning te gee in die ontwikkeling van ons leerders tot volwassenheid," het Johan Smit, hoof van die Laerskool Outeniqua, gesê. "Early Act verskaf aan ons 'n manier om ons hieraan te verantwoord."
"Ons is so trots om met die Outeniqua Early Actors geassosieer te word," het Frances Feig, president van die George Rotariër-klub gesê. "Hulle inisiatiewe verpersoonlik die leierskap, empatie en gemeenskapsbetrokkenheid wat ons land baie nodig het."
Enigiemand wat navrae het oor die begin van 'n Early Act-klub by hul laerskool is welkom om Wilhelm van der Vyver van die George Rotariër-klub tydens kantoorure te bel by 044 873 0215.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'