GEORGE NUUS - Leerlinge van die Laerskool Outeniqua het hul liefde vir weerlose diere gewys toe hulle onlangs kos en ander voorrade oorhandig het aan Odin (Oudtshoorn Dogs In Need).
Die leerlinge, almal deel van die Early Act-klub by Laerskool Outeniqua het dit as deel van hulle nuutste gemeenskapsprojek voltooi.
Early Act word by laerskole deur die internasionale Rotariërs ondersteun en het as doel om geleenthede te verskaf aan jong leerders vir aktiewe burgerskap in a kultureel diverse samelewing in ‘n interafhanklike wêreld.
"Ons het onlangs bewus geword van die Odin-projek wat vier jaar gelede op Oudtshoorn begin is, en nou ook aktief is in George, met hul plaaslike basis net buite Blanco," het Danielle Barnard, onderwyser en Early Act-koördineerder by Laerskool Outeniqua, vertel.
"Die inisiatief behels 'n veilige hawe vir mishandelde en verwaarloosde diere waar hul versorg en gerehabiliteer word tot op die punt waar lede van die publiek die diere kan aanneem, maar slegs nadat ondersoek geloods is oor die aanneemouers ten einde herhaalde trauma vir die dier te vermy.
"Ons wou graag iets doen vir die diere sowel as die spesiale mense wat na hul omsien. Ons Early Actors was meer as opgewasse vir die taak."
Die leerlinge, almal deel van die Early Act-klub by Laerskool Outeniqua het dit as deel van hulle nuutste gemeenskapsprojek voltooi.
Die leerders by die Early Act-klub, bygestaan deur hul ouers, sowel as die skool in sy geheel, het kos en ander voorrade gereël vir die samekoms. Op die dag van die besoek het sowat 35 Early Actors by die Odin-basis buite Blanco byeengekom, die voedsel en voorrade oorhandig, en toe met die honde en katte op die gronde gespeel.
"Die sleutelwaardes van ons skool is respek, hoflikheid, probleemoplossing en verantwoordelikheid," het Johan Smit, hoof van Laerskool Outeniqua, gesê.
"Early Act verskaf aan ons 'n manier om hierdie beginsels te koester en te bevorder."
Carryn Trollope, president van die George Rotariërs, het gesê die organisasie is trots om met die Outeniqua Early Actors geassosieer te word.
"Hulle inisiatiewe verpersoonlik die leierskap, empatie en gemeenskapsbetrokkenheid wat ons land baie nodig het."
Enige persoon wat navrae het oor die lansering van 'n Early Act-klub by hul laerskool is welkom om met Wilhelm van der Vyver van die George Rotariërs te skakel tydens kantoorure by 044 873 0215.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'