Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Groot feesvieringe om die 60ste bestaansjaar van een van George se bekendste skole, Laerskool Denneoord te vier, het begin.
Dit bereik later vanjaar 'n hoogtepunt by die skool met sy byna 700 leerlinge wat onderrig in Afrikaans en Engels bied.
Herman du Plessis, die skoolhoof het Maandag 6 Februarie gesê die vieringe vind regdeur die jaar plaas en betrek nie net die skool nie, maar ook die breë skoolgemeenskap.
Die eerste feesvieringe het onlangs plaasgevind toe 'n gemeenskapsbraai na die interhuis atletiekbyeenkoms gehou is. In Mei, na die interskole byeenkoms vind 'n soortgelyke geleentheid weer plaas.
'n Reünie van oudhoofde, oudonderwysers en oudleerders word vir Junie beplan. Dit word gereël deur Francois de Swardt wat op sy dag hoofseun van die skool was en deesdae 'n personeellid is. Hy word in April die onderhoof.
Op die oomblik is daar drie oudleerlinge op die personeel. Benewens De Swardt is daar ook Anel Oosthuizen wat al internasionaal haar merk as atleet gemaak het en Lize-Marie van Zyl. Haar nooiensvan was Cowley.
VIDEO: Denneoord is 60
Later vanjaar word die Liefdadigheids-week weer gehou en vanjaar is dit deel van die vieringe. Leerlinge sal byvoorbeeld nie-bederfbare kos, komberse en skryf-behoeftes skool toe kan bring wat vir behoeftiges geskenk sal word. September is die hoogtepunt van die vieringe en word die revueweek en gala-aand ook gehou.
Hierdie geleentheid beloof om 'n skouspel te wees met van George se professionele choreograwe asook klank- en beligtinginstansies wat die skool ondersteun om dit 'n onvergeetlike ervaring te maak.
Du Plessis het gesê oor die jare is veranderinge aangebring om aan te pas by die groei in getalle by die skool en die veranderende omstandighede in ons gemeenskap. Voorheen is verwys na die "Klein skooltjie met die groot naam." Deesdae word verwys na "Waar u kind ook ons kind is."
Du Plessis het benadruk by die skool word baie moeite gedoen om 'n omgee kultuur te skep wedersyds tussen kinders, tussen onderwysers en kinders en selfs tussen ouers en onderwysers.
Die skool se leuse is ook aangepas. Dis nou Mik hoog/ Aim excellence.
Om saam te val met die vieringe word die skool se skoolwapen ook aangepas. Die simbole bly dieselfde. Waar DSL staan gaan dit verander na LSDP. Dit staan vir Laerskool Denneoord Primary.
Die skool presteer nie net op akademiese gebied nie en is ook mededingend in sport soos rugby, netbal, hokkie, atletiek, krieket en skaak.
Van die skool se oudleerlinge het reeds uitstekend op sportgebied presteer soos byvoorbeeld Oosthuizen wat Suid-Afrika al by die Olimpiese Spele verteenwoordig het. Abubulele Ndabambu, nog 'n oudleerling speel provinsiaal rugby vir een van die grootste rugbyunies in Suid-Afrika.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'