Mense wat hulle geliefdes se laaste rusplek die naweek besoek het, was geskok oor die toneel wat hulle begroet het. Die George Herald het intussen verneem dat die begraafplaas ‘op die verkeerde plek’ uitgelê is en dat die enigste permanente oplossing ‘n uiters duur dreineringstelsel vereis, wat die pryse van grafte die hoogte sal laat inskiet.
‘n Leser, mnr. Reggie Roman, het die George Herald in kennis gestel van die onaanvaarbare situasie. Hy het skaars ‘n week ná sy ma se begrafnis besluit om vir sy 67 minute vir Mandeladag, die begraafplaas te besoek en sy oorlede skoonsuster se graf te versier.
Wat oorspronklik begin het as ‘n 67 minute welwillendheidsprojek het ge-ëindig in ‘n vier ure lange swoeg en sweet sessie, want Roman het met ‘n skok agtergekom dat die oorledene se graf, tesame met talle grafte daar rondom, heeltemal onder water is.
Roman se dogter wat hom vergesel het om haar ouma se graf te besoek, is steeds getraumatiseer nadat sy moes sien hoe haar tannie in ‘n ‘watergraf’ lê.
"Nadat ek my dogter se trauma beleef het, was ek ekstra gemotiveer om aan die werk te spring en die grafte rondom my skoonsuster se graf ook te begin dreineer," vertel hy.
Roman, wat tans sonder werk sit, is ‘n opgeleide siviele kontrakteur wat jare saam met die Departement Siviele en Tegniese Dienste van die George Munisipaliteit gewerk het. Sy planne vir die begraafplaas sluit in die installering van dreineringspype rondom die perseel wat sal help om die oortollige water weg te voer na die nabygeleë munisipale dreineringspunt en die gooi van ‘n laag gruis op die paaie tussen die grafte.
"’n G7- of G5-geelgruis sal ideaal wees, en nie eens so duur nie," sê Roman. "Watter indrukke moet die jeug hê van ‘n begraafplaas - ‘n mens wil mos nie jou geliefdes so sien lê nie," voeg hy by.
Stokou probleem
Volgens mnr. Radie Loubser, projekbestuurder van Parke en Rekreasie by die Departement van Omge-wingsake, is hierdie ‘n stokou probleem.
"Die begraafplaas is in die eerste plek op die verkeerde plek aangebring," sê Loubser, wat verduidelik dat die watertafel in daardie area baie vlak is.
Volgens Loubser is dit moontlik om dit te dreineer, en het hulle dit al telkemale in die verlede probeer doen, maar ‘n volledige dreineringstelsel wat die probleem sal oplos, sal geweldig duur wees en nie finansieel haalbaar nie.
Hy sê dat ‘n mens ook in gedagte moet hou dat die grafte heelwat duurder sal word indien baie geld gebruik word om die begraafplaas op te knap.
Roman het ‘n week gelede R1 743 betaal vir sy ma se graf.
Die grondvorm van die begraafplaas is blykbaar van so ‘n aard dat die grafte gedurig inval en om gras aan te plant vir dreinering is ook nie die aangewese opsie nie, want dit sal net eenvoudig inval daar waar die graf gegrawe is.
Sosiale euwels
Loubser noem verder dat die struike wat vir verfraaiing aangebring is binne ‘n week ná aanplanting gevandaliseer is, dat die heining gereeld gesteel word, en dat ‘elke moontlike sosiale euwel denkbaar in die begraafplaas gepleeg word’.
Hy sê verder dat dit al dikwels gebeur het dat ‘n familie die oggend van die begrafnis by ‘n graf aankom wat met water gevul is en dat daar dan ter nouer nood ‘n nuwe graf gegrawe moet word.
"Ons kry gedurig klagtes oor die toestand van die begraafplaas by die publiek. Ek wens ‘n mens kan maar net eenmaal die plek onder hande neem en dit ‘n lushof maak," sê Loubser.
Die Yorkstraat-begraafplaas is een van agt amptelike begraafplase wat onder die raad se jurisdiksie ressorteer.
Artikel en foto's: Michelle Pienaar
.jpg)
Verskeie grafte by die George Begraafplaas lê onder water ná laasweek se reën. Die publiek begin verassing al hoe meer as ‘n alternatief oorweeg, veral aangesien daar nie ’n prakties uitvoerbare oplossing is vir die ongunstige ligging van die begraafplaas nie.