GEORGE NUUS - 'n Probleem wat blykbaar begin het as 'n eenvoudige lekkasie in 'n pyp by 'n buurman het ontaard in 'n nagmerrie vir Dawid Maree van St. Legerstraat in George-Suid.
Tydens die herstelwerk van die lekkasie, wat volgens Maree steeds werk benodig, het 'n laaigraaf na bewering 'n mangat in Maree se oprit sodanig beskadig dat hy vir die laaste twee weke elders moes parkeer en huis toe stap.
"Die situasie raak nou ernstig, ek is werklik bekommerd dat hulle nie gaan help nie," het Maree gesê. Hy beweer sy pleidooi vir herstelwerk val op dowe ore. "Intussen moet ek by mense verder af in die straat parkeer. Hulle ry my na my huis."
Volgens Jannie Koegelenberg, direkteur van siviele ingenieursdienste, het die klaer tans toegang tot sy oprit: "Die werkgebied is intussen ook met sperband afgebaken. George-munisipaliteit vra om verskoning aan inwoners vir die ongerief en sê dankie vir hul geduld."
Koegelenberg se terugvoer dui daarop dat die oorspronklike klagte verband gehou het met water wat by die padoppervlak uitstroom.
"Die aanvanklike vermoede was dat daar dalk 'n pypbars of lekkasie is. 'n Uitgrawing in die straat en sypaadjie het plaasgevind om die oorsprong van die probleem op te spoor. Na verdere ondersoeke en ontleding van watermonsters het ons vasgestel dat dit wel grondwater is. Die herstelwerk aan die infrastruktuur wat versteur is tydens die ondersoek sal binnekort begin en sal ongeveer 'n week duur.
"Die infrastruktuur moet eers volkome herstel word en dan kan alles opgevul word met die nodige kompaksie. Die teeroppervlak word laaste herstel."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’