GEORGE NUUS - Die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, open op 21 Julie om 14:00 'n uitstalling van die Outeniqua Kwiltersgilde in die George-museum.
'n Verskeidenheid van die gilde se werk sal te sien wees. Die uitstalling loop op 31 Julie ten einde.
Die gilde kon weens die Covid-pandemie nie meer by hulle gewone vergaderplek bymekaarkom nie, maar 'n boer maak 'n plan en hulle nuwe bymekaarkomplek is in die Milktrans-melkskuur in Geelhoutboom.
By hulle mees onlangse vergadering op 17 Junie was daar groot opgewondenheid oor 'n groot skenking van Goldwagen SA waarmee die gilde hulle eie stoele kon koop.
Die voorsitter van die gilde, Ina Meyer, sê hulle is ongelooflik dankbaar vir hierdie skenking. Coert de Lange van Goldwagen George, vergesel van sy vrou Maryna, was by die vergadering om die lint te knip.
Persone wat belangstel om by die gilde aan te sluit, kan die voorsitter bel by 082 771 6957.
Coert de Lange van Goldwagen George, vergesel van sy vrou Maryna, het die lint gekniip by die Outeniqua Kwiltersgilde se nuwe vergaderplek in die Milktrans-skuur waar hulle hul nuwe stoele, aangeskaf met 'n skenking van Goldwagen, ingewy het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’