GEORGE NUUS - Die verligting van 'n paar kwekery-eienaars wat permitte verkry het om in die laaste deel van grendeltyd in eetbare plante handel te dryf, was van korte duur.
Volgens Alet Koch-Lochner van die Norgarivier-kwekery was hulle in die eerste drie weke van grendeltyd toe, maar ná die aankondiging dat dit verleng is, het hulle toestemming begin soek om ten minste groentesaailinge, kruieplante en vrugtebome te kon verkoop.
Hulle het verlede week 'n permit by die Garden Route-distriksmunisipaliteit verkry en Maandag vir die eerste keer weer klante ontvang.
"Dit was 'n groot verligting want ons het meer as 30 werknemers wat tuis moet bly. Ons kan nie salarisse betaal nie, want ons inkomste het geval tot nul. Maandag kon ons weer ses personeellede laat inkom om te kom help om klante te bedien."
Maandagmiddag het lede van die polisie egter opgedaag en hulle ingelig dat die inperkingsregulasies handeldryf deur kwekerye per se verbied.
Gerhard Otto, hoof van die distriksmunisipaliteit se rampbestuursafdeling en Covid-19 gesamentlike operasiesentrum (JOC), het by navraag bevestig dat permitte vir die kwekerye deur personeel van die munisipaliteit uitgereik is nadat hulle die regulasies verkeerd geïnterpreteer het. Die permitte is teruggetrek.
"Daar word nie in die regulasies voorsiening gemaak vir kwekerye nie. Vyf permitte is uitgereik wat teruggetrek is. Genesis Seedlings mag wel groentesaailinge verkoop want hulle verkoop aan boere. Dit val onder landbou, wat 'n essensiële diens is."
Koch-Lochner het gesê sy is teleurgesteld, maar het begrip vir die situasie. Die kwekery het al die higiëniese en sosiale-afstandmaatreëls in plek gehad. Trollies is ontsmet en die personeel het met maskers en handskoene gewerk. Gedeeltes met plante wat nie verkoop mag word nie, is toegespan.
Baie klante het ook maskers gedra en geduldig op 'n afstand van mekaar in die ry gewag.
"Daar was groot belangstelling. Ek dink mense het gedink dit is iets om te doen. Baie wil meer selfvoorsienend wees en hulle het nou die tyd om 'n groentetuin te vestig. Ons self het nog nie nodig gehad om in 'n ry te gaan staan om vars groente te koop nie in hierdie tyd nie.
"Ons hoop nou net dat ons volgende week sal kan oopmaak en ons besigheid hervat. Morné, my man, het darem vir ons mense vir werkloosheidsversekering aansoek gedoen."
George Kwekery het ook gesê daar was groot belangstelling toe hulle weer oopgemaak het. Bennie Niemand, eienaar van Bargain Nursery oorkant die George-lughawe, het bevestig dat hulle hekke ook oop was.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'