Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Pandemonium het gister, Woensdag 27 November, by Hoërskool Outeniqua losgebars toe Warrick Gelant (24), een van die Springbokke wat onlangs die Wêreldrugbybeker in Japan gewen het, die skool besoek het.
Hy moes behoorlik bontstaan om handtekeninge uit te deel en baie van die leerlinge wou selfies saam met hom neem.
In een stadium moes lede van die leerlingraad en onderwysers die leerlinge vra om in 'n tou te staan sodat almal 'n regverdige kans kon kry. Van sy oudonderwysers het ook nadergestaan en hand geskud.
Gelant kom oorspronklik van Knysna.
Leerlinge van die Hoërskool Outeniqua, by Warrick Gelant tydens sy besoek aan die skool. Foto: Wessel van Heerden
Hy was van gr. 8 tot 12 'n leerling aan Hoërskool Outeniqua en het sy skoolloopbaan in 2013 hier voltooi. Hy en 'n voormalige Mej. Heelal, Demi-Leigh Nel-Peters het in dieselfde jaar hul skoolloopbane by die skool voltooi.
Toe Gelant Woensdag kort na 12:00 sy verskyning maak, het leerlinge en onderwysers hom luid toegejuig.
Kyk video's hieronder.
Hy is namens die skool deur Piet Cloete, adjunkhoof en sporthoof van Hoërskool Outeniqua, verwelkom. Cloete het vertel dat hy reeds in 2007 kennis geneem het van Gelant. Dit was tydens 'n oefening van die SWD se o.13 Cravenweekspan. Toe al het hy besef Gelant het baie talent. Toe Gelant later 'n leerling van die skool word, het hy van die begin af sy stempel afgedruk.
Christo Vorster, die skoolhoof, het Gelant beskryf as 'n nederige persoon. Hy het namens die skool vir Gelant en die Springbokke gelukgewens met die besondere prestasie.
Gelant het nadergestaan en die leerlinge toegespreek. Hy het gesê dis spesiaal om die skool te besoek. "Dis great om weer terug te wees."
Christo Vorster,(links) hoof van Hoërskool Outeniqua, oorhandig 'n Kwagga-ondersteunersbaadjie aan Warrick Gelant tydens sy besoek aan die skool. Foto: Wessel van Heerden
Hy het dit as 'n groot voorreg beskryf om op Hoërskool Outeniqua se skoolbanke te kon sit en die onderwysers en sy rugbyafrigters bedank vir die rol wat hulle in sy loopbaan gespeel het. Gelant en die leerlinge het later saam die skoollied gesing. Toe leerlinge die geleentheid kry wou almal met hom gesels. Gelant het geduldig handtekeninge uitgedeel en vir foto's poseer.
Christo Vorster, (links) hoof van Hoërskool Outeniqua, Warrick Gelant en Piet Cloete, adjunkhoof en sporthoof van die skool. Foto: Wessel van Heerden
Hy was duidelik verras oor die verwelkoming. Na die geleentheid het hy gesê: "Ek het dit nooit verwag nie."
In 'n kort onderhoud met die George Herald het Gelant gesê dit was nooit in sy wildste drome om eendag in 'n Wêreldbekertoernooi te speel nie.
Volgens hom is die fondament vir sy rugbyloopbaan by die skool gelê. Hy het bygevoeg: "Die Suid-Kaap sal altyd 'n sagte plekkie in my hart hê. Dis van waar ek is."
Warrick Gelant deel handtekeninge uit aan leerlinge van die Hoërskool Outeniqua. Foto: Wessel van Heerden
Leerlinge van Hoërskool Outeniqua luister na Warrick Gelant terwyl hy meer vertel van die Springbokke se onlangse prestasies in Japan. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'