GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua loop breëbors rond nadat een van sy gr. 12-leerlinge, Grant Campbell (17), as die algehele wenner vir hoërskoolleerlinge van die FAK Nasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade aangewys is.
Die geskiedenis-olimpiade vir hoërskoolleerlinge het uit twee rondes bestaan. Die klem van vanjaar se olimpiade het op Suid-Afrikaanse geskiedenis geval, wat ook Afrikaanse taalgeskiedenis, Afrikaner-geskiedenis en Westerse geskiedenis ingesluit het.
Die eerste ronde het uit 'n aanlyn vraestel bestaan met multikeusevrae, waar dié vrae weer in bogenoemde drie afdelings onderverdeel is met die pionierstydperk (1652 tot 1820) as tema.
Diegene wat 80% of meer behaal het in die eerste ronde, het deurgedring na die tweede ronde., Hulle moes 'n opstel skryf waar hul standpuntstelling, beredenering en algemene kennis getoets is.
Hulle kon kies: Bespreek krities of en hoe CJ Langenhoven se woorde: "Afrikaans, ons pêrel van groot waarde," steeds relevant is in die Afrikaanse volksmond of Bespreek krities die feit dat dit kenmerkend van Afrikaners is om humor in tye van ingrypende lewensmomente te gebruik of te misbruik.
Dit was vanjaar die eerste keer dat Grant deelgeneem het. Geskiedenis is sy gunstelingvak. Sy opstel het gegaan oor CJ Langenhoven se woorde: "Afrikaans, ons pêrel van groot waarde," en dat dit steeds relevant is in die Afrikaanse volksmond.
Grant beskou nie geskiedenis as 'n dooie vak nie. "As 'n mens uit die geskiedenis kan leer, dan kan mens mos keer dat foute nie so baie herhaal word nie."
Volgens Grant het hy in al sy afperiodes by die skool geleer vir die olimpiade en sy ma, Idalette, het vir hom 'n tydlyn van die bekende persone in die pionierstydperk opgestel, wat hy dan tuis "opgeswot" het. Sy ouers, Lionel en Idalette, stel ook in geskiedenis belang.
Hy is van plan om aanstaande jaar by Unisa in te skryf en internasionale verhoudinge te studeer. Hy wil ook programmerings-kursusse doen en 'n kursus in Mandaryns aanpak. Een van die redes waarom hy Mandaryns wil aanpak is omdat hy glo China se invloed in die wêreld word groter.
Oor die land se toekoms het hy gesê: "Daar is 'n paar uitdagings en dit sal aangespreek moet word."
Hy het R5 000 gewen, 'n medalje en erkenningsertifikaat. Hy is van voorneme om onder meer 'n rekenaar met die wengeld te koop.
Chrisna Nel, projekorganiseerder van die FAK Nasionale Geskiedenisolimpiade, het gesê: "Dit is lekker om te sien dat kinders nog iets oor ons geskiedenis wil leer en ek hoop van harte dat die Geskiedenisolimpiade 'n aanmoediging sal wees om meer en meer te wil lees en weet."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'