Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Munisipale stortingsterrein waar hout wat deur die stompkopkewer (Euwallacea nr. fornicates) en sy simbiotiese swam (Fusarium euwallacea) besmet is gestort kan word, is geïdentifiseer.
Dit is deur dr. Jaap Steenkamp, bekende bosboukenner, by navraag aan die George Herald bevestig.
Hy het dit verwelkom en gesê dit kan help. Steenkamp is betrokke by die vestiging van die nuwe terrein.
Volgens hom sal meer besonderhede later bekendgemaak word en dit word in oorleg met belanghebbendes en die munisipaliteit gedoen. Op die oomblik word die logistieke reëlings afgehandel.
Hy het daarop gewys dat die bestuur van so 'n terrein belangriker is as die vestiging daarvan self. Daar moet in gedagte gehou word dat as besmette takke afgesaag is en dit word vervoer, kan die kewers ook vlieg en verder versprei.
Daarom moet die afgesaagde takke eers behandel word voordat dit na die stortingsterrein geneem word.
Volgens Steenkamp het hy geen twyfel dat die stompkopkewer en sy simbiotiese swam steeds bome in George besmet. Hy het verlede week tydens 'n besoek aan Klein-Brakrivier ook vasgestel daar is bome in die gebied wat geraak word.
Sy opmerkings kom teen die agtergrond van lesers se opmerkings oor die kewer en die swam op die George Herald se Facebook-blad.
Kyk 'n video hieronder:
Verskeie inwoners van George het gereageer nadat hulle uitgenooi is om te laat weet waar die kewer en sy swam bome in hul tuine raak. Dit blyk dat die kewer en sy swam verwoesting saai onder bome in onder meer Heroldsbaai, Denneoord, Bo-Dorp en Heatherlands.
Steenkamp het gesê die kewer kan nie uitgeroei word nie. Dit kan net beheer word. Navorsing wat gedoen is, gee 'n omvang van die probleem. Dit blyk dat daar in 500g stokkies van 'n kasterolieplant 119 kewers, 119 larwes en 46 papies gevind is.
Hy het benadruk dat nie alle bome sal vrek nie, maar daar is beslis bome wat geraak word. "Daar is beslis 'n toename en nuwe plekke is geïdentifiseer waar dit voorkom.
"Ons hoop op 'n koue winter en lae temperature. As temperature nie onder 16°C daal nie sal die kewer populasie ongestoord voortgaan. Koue weer sal die kewers se voortplanting bietjie temper."
Hy het gewaarsku dit is nie die oplossing nie. Sy advies vir die onmiddellike toekoms is om stambespuiting te gebruik wat bestaan uit 'n insekdoder en 'n swamdoder.
Hy ontvang daagliks navrae van mense oor hoe om die probleem op te los.
Daar is self navrae uit die Noord-Kaap waar dit 'n groot impak op neutbome het. "Die grootste enkele uitdaging is: watter middele teen watter dosisse.
"Ons fokus om dit so natuurvriendelik moontlik te doen."
Steenkamp is bekommerd dat daar mense is wat die situasie uitbuit en net sonder meer by mense aanbeveel om die bome in hul tuine af te kap.
Dr. Jaap Steenkamp met 'n spuitstelsel wat op besmette bome gebruik word.
'n Inwoner van George, Johanna Vermeulen, het reeds in 2018 vir Braam du Preez, 'n bosboukonsultant, gekontak nadat sy gesien het daar is probleme by bome in haar tuin.
Du Preez het die bal aan die rol gesit. Hy het in Februarie 2018 monsters van die bome na Pretoria geneem.
Tydens sy besoek het hy dit met kundiges by die instituut vir bosbou en landboutegnologie (Fabi) aan die Universiteit van Pretoria bespreek.
Prof. Wilhelm de Beer van Fabi het George besoek en ook op Knysna monsters geneem. Hy en sy span het vasgestel dat die stompkopkewer en sy simbiotiese swam beslis die skade veroorsaak.
Lees vorige artikels:
- Kewers en swam steeds probleem
- Dodelike stompkopkewer gaan ongestoord voort!
- George kan boomloos word
- Bome vrek op 'n streep
- Besmette bome kry aandag
- Info session about borer beetle
- Beheermiddels op besmette bome getoets
- Bome vrek steeds in George
- Feared borer beetle infestation wreaks havoc in George
- Borer beetles a danger to trees
- Steer clear of dying trees in George area
- Spot beetle infestation
- Expert investigates beetle plague
- Beetle Threat: Public asked to help
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'