GEORGE NUUS - Kospakkies wat tydens die Outeniqua Wheelchair Challenge (OCC) aan deelnemers uitgedeel is, het kommer by twee lede van die George-raad se oposisiepartye gewek.
Twee blikke gebakte boontjies, blikkies vis, 'n broodrolletjie en 'n pakkie koekies is aan al die deelnemers van die OCC gegee.
PBI-raadslid Virgill Gericke en SAC-raadslid Bazil Petrus is hoogs ontstoke oor wat hulle noem 'n "gebrek aan ordentlike maaltye" waarmee deelnemers glo moes tevrede wees.
"Daar was geen gereserveerde plek vir die atlete om te eet nie," het Gericke gesê.
Gericke en Petrus het ook hul kommer uitgespreek oor 'n deelnemer wat blykbaar nie 'n fisieke gestremdheid het nie, wat deur ander raadslede in 'n rolstoel tydens die 5 km-pretloop gestoot is.
"Die persoon het in 'n stadium uit die rolstoel geklim en 'n sigaret gerook," het Gericke gesê.
"Dit laat baie vrae ontstaan," het Gericke gesê. "Wat as die persoon dalk 'n prys gewen het? Dit is onregverdig teenoor diegene wat wel gestremdhede het."
Vrae is ook geopper oor die koste effek van die projek.
"Minder deelnemers van Zimbabwe is vanjaar geborg, maar die begroting was groter," het Gericke gesê.
"As ons die OCC as 'n ordentlike, internasionale gebeurtenis wil bemark, kan ons nie deelnemers aan sulke substandaarde van behandeling blootstel nie."
"Ons is ook ingelig dat die George-munisipaliteit vanjaar R250 000 vir die projek geborg het, sonder dat die finansiële state van die vorige jaar deur die OCC-organiseerders beskikbaar gestel is.
"Die OCC word deur 'n privaat entiteit bestuur. Hierdie is nie 'n munisipale inisiatief nie, die munisipaliteit is slegs 'n borg.
"As dit die geval is, en daar is geen geouditeurde state nie, wek dit ernstige vrae oor die bestuur van die geld."
Balans in bestuur én maaltye
Alewijn Dippenaar, voorsitter van die Disabled Road Race Foundation (DRRF) wat sedert 2004 die OCC aanbied, het verduidelik dat dié stigting bedryf word as 'n nie-winsgewende organisasie.
"Daar is 8 direkteure waarvan drie persone van voorheen benadeelde groepe afgkomstig is. Een direkteur is gestrem.
"Die beplanning is om twee verteenwoordigers van die kompeterende atlete ook op die direksie te plaas gedurende 2018," het hy gesê.
Volgens Dippenaar is die kospakkies slegs 'n peuselpakkie wat aan deelnemers gegee is vir hul terugreis na hulle bestemmings.
"Aangesien meeste van die deelnemers na afloop van die OCC terug gereis het na hulle bestemmings, is daar met die hulp van 'n dieëtkundige 'n peuselpakkie saamgestel.
"Twee van die blikkies in die pakkie het selfoopmakers gehad en eetgerei was ingesluit."
Die moontlike gesondheidsrisiko om gaar voedsel by die venue te bedien was nog 'n motivering vir die peuselpakkie.
"Alles was dus geseël, met uitsondering van die vrugte en broodrolletjie. 'n Derde rede was die verskillende smake van deelnemers wat onderling verskil.
"Ons is bewus dat die peuselpakkie nie vir almal aanvaarbaar was nie en sal met voortgesette konsultasie met deelnemers streef na oplossings."
Deelnemers het nietemin ook 'n geskenkbewys ontvang waarmee hulle 'n maaltyd by 'n kitskos-eetplek kon koop.
Slegs gestremdes welkom
Volgens Dippenaar is die reël dat persone gedeeltelik of ten volle van 'n rolstoel afhanklik moet wees om aan die wedrenne deel te neem.
"Met meer as 300 vrywilligers wat help stoot en ook saam stap kan dit gebeur dat mense sonder gestremdhede dalk in rolstoel was.
"As dit gebeur het, dan betreur ons dit ten sterkte," het hy gesê.
"In die pretloop bring die spanbestuurder die lys van deelnemers vir registrasie en as daar 'n persoon sonder gestremdhede ingeskryf het, word dit beskou as oneerlik en ons veroordeel dit 100%."
Dippenaar het bevestig dat elke atleet wat in die kompeterende afdeling deelneem vooraf in 'n kategorie geplaas word, met 'n valhelmnommer, om te verhoed dat persone sonder gestremdhede deelneem.
Volgens Senzeni Ndebele, 'n senior sakebestuurder van ACSA, het hulle geen klagtes ontvang nie.
Sy het bevestig dat 'n vergadering tussen Acsa, die DRRF en George-munisipaliteit nog moet plaasvind, om seker te maak al die bepalings is nagekom.
"Dit sou onbillik wees om die bepalings en voorwaardes te openbaar, aangesien dit 'n ooreenkoms tussen die DRRF en Acsa is," het sy gesê.
Sy het bevestig dat Acsa nie die enigste borg van die OCC is nie.
George-munisipaliteit het R250 000 geborg en die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport het R50 000 geskenk.
Lees Ndebele se volledige terugvoer:
Ndebele, ACSA senior manager, responds
Read the response from George Municipality:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'