Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - As die skêre en haarknippers van oom Koos Cronjé, een van George se bekendste haarkappers kon praat, sou hulle baie verhale kon vertel. Hy sny al byna 40 jaar hare en verlede Vrydag, 3 Februarie, het hy 'n besondere mylpaal bereik toe hy sy 80ste verjaarsdag gevier het.
Oor die jare het hy letterlik duisende mense se hare gesny waaronder bekendes soos wyle PW Botha, Hansie Cronjé en Eric Nobbs.
Baie mense ken hom en sy twee assistente, Charmaine Boshoff en Zylia Ryksen baie goed waar hulle oud en jonk, mans en vroue, seuns en dogters se hare by Koos Cronjé Haarkappers in Meadestraat sny.
Heel gepas het Charmaine en Zylia Vrydagoggend vir hom die tradisionele, Veels geluk liewe maatjie, gesing.
Dis 'n lang pad wat hy al loop om te sorg dat mense se hare netjies lyk. Hy het skoolgegaan by Paarl Gimnasium en daar het hy as skoolseun by sy oom, Tommie de Villiers, leer hare sny. Teen die tyd dat hy in matriek was, was hy al heel bedrewe met die skêr en het hy in sy vrye tyd sy oom gehelp.
VIDEO: Koos Cronje 80
Na skool het hy hoofsaaklik admini-stratiewe werk in die staatsdiens gedoen. In 1983 het hy na George verhuis en 1984 die haarkapperbesigheid hier begin. Hy weet regtig nie hoeveel mense se hare hy al gesny het nie. "Dis seker maar duisende."
Hy geniet die werk en veral die interaksie met die mense.
Oom Koos se gesondheid is nog goed. "Dis danksy die Here, Hy kyk na my."
Op die oomblik is hy besig om 'n huis op 'n stukkie grond by Albertinia te bou. Die plan is om so oor twee/drie jaar daar te gaan woon.
Nou is dit ons beurt. Oom Koos Cronjé, een van George se bekendste haarkappers was Vrydag 80 jaar oud. Sy twee assistente, Charmaine Boshoff en Zylia Ryksen was van die eerstes om hom geluk te wens en het gespot dat hulle sy hare sal sny. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'