Update
GEORGE NUUS - Die Pedro-familie van Le Vallia rou oor die dood van hulle geliefde steunpilaar, Audrey (74), nadat sy Saterdagaand, 9 Junie, in 'n ongeluk in Yorkstraat gesterf het toe sy onderweg was na die St Mark's musiekkonsert.
'n Familielid en sy vriend was saam met Audrey. Volgens Karen, die oorledene se dogter, is haar ma deur 'n bakkie, oorkant St Mark's Cathedral, getref terwyl sy die pad oorgesteek het. Die Pedro-familie beskryf Audrey as 'n vredeliewende mense-mens en 'n moeder vir almal, "Mammie was die hartklop van ons gesin."
Die familie dra egter nie haat in hulle hart teenoor die bestuurder van die bakkie nie, "Ons wens hulle ook alle sterkte toe, en ons dra mekaar op in gebede."
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het die voorval bevestig. Volgens Pojie is 'n strafbare manslag dossier geopen.
Daar sal Donderdagaand, 14 Junie, om 19:00 'n roudiens by die VGK in Rosemoor gehou word. Die begrafnis is op Saterdag 16 Junie, om 11:00 by die huis in Gelderbloemstraat, Le Vallia, en 12:00 by die VGK Rosemoor. Audrey laat haar eggenoot, Henry, Dogter, Karen, twee seuns, Owen en Denzil, 11 kleinkinders en vyf agter kleinkinders, na.
Die ongelukstoneel Saterdagaand in Yorkstraat. Foto: J Symons
Wes-Kaap paaie eis nege lewens
Volgens die Wes-Kaapse verkeershoof, Kenny Africa, is daar in totaal nege sterftes op die provinsie se paaie die afgelope naweek vanaf Vrydagoggend, 8 Junie, om 06:00 aangemeld.
In 'n botsing tussen 'n motorfiets en 'n ligte voertuig, in Du Toitskloofpas, Vrydagmiddag, het die persoon op die motorfiets gesterf.
Op die R44 in Kleinmond het twee persone, Vrydagmiddag, in 'n botsing tussen twee bakkies gesterf.
Een persoon het Saterdagoggend in 'n botsing tussen 'n bus en 'n ligte voertuig, op die R304, Klipheuwel, gesterf.
Twee persone is Sondagaand in 'n botsing reg van voor tussen twee ligte voertuie, in Vredendal, oorlede.
Die bestuurder van 'n Toyota Fortuner en die passasier het Maandagoggend tragies gesterf nadat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.
Lees 'n vorige artikel: Vrou sterf in Yorkstraat
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'