GEORGE NUUS - Suid-Afrika stuur op 'n ramp af oor die besoedeling van sy waterbronne as gevolg van gebrekkige sanitasie.
Die waarskuwing is deur dr. Jo Barnes gemaak tydens 'n onlangse beraad oor klimaatsverandering wat onder die vaandel van die Garden Route-distriksmunisipaliteit en die Garden Route Environmental Forum in Wilderness gehou is.
Barnes is 'n semi-afgetrede senior lektor van die afdeling gesondheidstelsels en openbare gesondheid van die fakulteit van geneeskunde en gesondheidswetenskappe by Tygerberg, Universiteit van Stellenbosch. In haar lang loopbaan het sy aandag gegee aan watergedraagde siektes, waterbesoedeling en gemeenskapgesondheid.
Tydens die beraad het sy onder meer gesê dit is nie net riviere wat geraak word nie, maar ook ondergrondse water. Daar moet in gedagte gehou word dat die droogte toestande sal voortduur en die soort besoedeling maak dit toenemend gevaarlik om rivierwater te gebruik. Dit is duur om sulke water te suiwer. Die gevaar bestaan dat die see uiteindelik ook besoedel kan word, want die riviere vloei in die see. Dit kan ook die visbronne raak.
Sy het Maandag by navraag gesê besoedelde water wat van huishoudings en nywerhede afkom, word almal saamgevoer in rioolpypstelsels. Die pype neem dit na rioolwerke waar dit skoon genoeg gemaak moet word sodat dit in die natuur vrygelaat kan word. Weens die swak toestande van rioolwerke is bereken dat sowat 50 000 liter rou riool elke sekonde in ons land se riviere losgelaat word.
Dit raak ook stormwater. Groot hoeveelhede riool beland in stormwater. Die stormwaterstelsels is so ontwerp dat dit afvloei na riviere. Sy het benadruk dis belangrik dat stormwaterstelsels gereeld skoongemaak moet word. Soos die riviere afloop, besoedel dit ook die grondwater. Dit beteken die besoedeling kring wyer uit.
Die oplossing is eenvoudig. Ofskoon dit baie werk en waarskynlik baie geld sal kos, omdat dit so verswak het, is dit dringend nodig om aandag aan beter sanitasiestelsels te gee.
Volgens haar moet in gedagte gehou word dat riviere ook gebruik word vir besproeiing van eetbare gewasse. Dit gaan dus nie net oor drinkwater nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'