GEORGE NUUS - Mense wat bewus is van moontlike onreëlmatighede met munisipale finansies en ander soortgelyke aspekte in die George-munisipaliteit, word genooi om met die munisipale openbare rekeninge komitee (MPAC) van die George-stadsraad in verbinding te tree.
Die uitnodiging is deur Johan du Toit, die nuwe voorsitter van die komitee, gedoen in 'n onderhoud met die George Herald.
Du Toit het die versekering gegee dat mense wat met inligting na vore kom, se identiteit beskerm sal word, as hulle dit so verkies.
Die komitee word as een van die belangrikste komitees van die stadsraad beskou en funksioneer op dieselfde basis as die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor). Sy vernaamste taak is 'n oorsigrol oor munisipale finansies. Dit is al 'n tradisie dat die pos aan 'n lid van die opposisie gegee word.
Du Toit, 'n ACDP-lid van die stadsraad, is geen groentjie in die pos nie. Hy was van 2013 tot 2016 ook voorsitter van die komitee.
Hy volg Laetitia Arries van die EFF op, wat in Mei tot die parlement verkies is. Die nuwe komitee sal binnekort in Augustus sy eerste groot vergadering hou. 'n Vorige geskeduleerde vergadering kon nie plaasvind nie.
Volgens Du Toit was hy totaal verras toe die burgemeester, Melvin Naik, hom genader het om in die pos te dien.
Hy sien daarna uit om weer in die voorsitterstoel te sit. "Daar wag groot uitdagings en ek het geen illusies nie. Dit is 'n ontsaglike taak en ons sal hom eet soos 'n olifant - stukkie vir stukkie.
"Die komitee het wye magte en kan selfs iemand dagvaar om te getuig. Dit sluit ook in byvoorbeeld die burgemeester en die munisipale bestuurder."
Hy is bewus van gerugte van beweerde bedrog en korrupsie in die munisipaliteit. "Elke geval sal op meriete hanteer word en die benadering wat gevolg sal word is dat iemand onskuldig is tot hy/sy skuldig bevind word."
Sy doelwit is om 'n skoon en 'n deursigtige administrasie in George te verseker. "Die publiek moet die komitee as 'n vennoot sien."
Vergaderings sal oop wees vir die publiek, behalwe as vertroulike aangeleenthede bespreek word. "Die publiek het 'n reg om te weet wat aan die gang is."
Ongeag sy eie politieke verbintenis, staan hy neutraal. Die politieke oortuigings van iemand, sal ook nie 'n rol speel by die komitee nie.
Mense wat die komitee wil kontak kan 'n e-pos stuur na jdutoit@george.gov.za of bel by 044 801 9209.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'