Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Nieteenstaande die uitdagings wat gepaard gaan met Covid-19 gaan die munisipale publieke rekeninge komitee (MPRK) van die George-stadsraad, voort met sy werksaamhede.
Die komitee word as een van die belangrikste komitees van die stadsraad en munisipaliteit beskou en funksioneer op dieselfde basis as die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor).
Vrae het die afgelope tyd ontstaan of die komitee nog funksioneer in die veranderde situasie.
Johan du Toit, wat die voorsitter van die komitee in die tweede helfte van 2019 geword het, het Maandag aan George Herald gesê Covid-19 het aanvanklik die werksaamhede van die komitee nadelig geraak.
Die komitee kon byvoorbeeld nie fisies vergader nie. Volgens hom is dit 'n belangrike deel van die komitee se werksaamhede om mense fisies van aangesig tot aangesig te ontmoet wanneer hulle voor die komitee verskyn. Nadat die inperkingsmaatreëls afgekondig is, moes alle vergaderings virtueel plaasvind. Dit was nie aldag maklik nie, inligting is ook per e-pos aangestuur.
Volgens Du Toit gaan hulle voort en is daar verskeie ondersoeke aan die gang. "Ons sit nie op ons louere nie. Van die ondersoeke hou verband met kospakkies wat aangekoop en voorsien is tydens Covid-19. Daar is ook vrae oor gesigsmaskers en chemiese toilette. Ek kan dit nie in die stadium vooruitloop nie."
Du Toit het benadruk dit is nie 'n heksejag nie. "Ons het 'n oorsigrol en wil seker maak dat daar nie bedrog of korrupsie was nie."
Kyk 'n video hieronder:
Dit gaan deesdae beter as voorheen en hy het 'n lansie gebreek vir burgemeester Leon van Wyk, en dr. Michelle Gratz, die nuwe waarnemende munisipale bestuurder.
"Dis makliker vandat hulle in die poste is en hulle gee hul volle samewerking in enigiets wat ons aanpak."
Hy het ook meer logistieke hulp as voorheen en het nou 'n eie kantoor op die tweede verdieping van die munisipale gebou.
Du Toit het die publiek die versekering gegee dat geen korrupsie en bedrog geduld sal word nie. "As ongerymdhede aan die lig kom, sal opgetree word. Ek nooi die publiek uit. My kantoor staan oop. Enige inligting wat op feite berus en relevant is, sal ondersoek word. Mense kan my bel by 083 441 2947 of 'n e-pos stuur aan na jdutoit@george.gov.za."
Al behoort hy aan die ACDP, staan hy polities neutraal in die werksaamhede van die komitee.
Despite the challenges of Covid-19 the Municipal Public Accounts Committee (MPAC) in George is still going on with its activities. The committee functions on the same basis as the Standing Committee on Public Accounts (SCOPA) in parliament. Johan du Toit, the chairperson of MPAC in George, said the committee is currently involved in certain investigations.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'