GEORGE NUUS - Groot opgewondenheid heers oor die Suid-Kaap-boerboel-streekskou wat Saterdag 27 Augustus by die Outeniqua Family Market aangebied word.
Christo de Kock, een van die organiseerders, het gesê minstens 70 van die besondere honderas, wat so swaar as 90 kg weeg, word verwag. Hulle kom van sover as Kaapstad en Oos-Londen.
"Die Boerboele wat deelneem moet geregistreer wees en jy moet lid wees van die South African Boerboel Breeders Society (SABBS)."
Volgens De Kock is mense welkom om die geleentheid by te woon wat om 10:30 begin. "Ons begin met die drie maande oue kleintjies en teen 14:00 sal die groot honde se wenners aangewys word."
Die gesogte swart boerboel (wat onlangs as 'n erkende kleur bygevoeg is) sal ook daar wees. Ligbruin, rooibruin en briekwa (brindle) sal in hulle onderskeie ouderdomsgroepe deelneem.
Benewens die honde is daar stalletjies waar verversings gekoop kan word. "Bring die hele familie en kom geniet die dag saam met ons."
Boerboelskoue wat wêreldwyd gehou word, is daar om te sien hoe naby eienaars kan kom aan die voorgeskryfde rasstandaard. Met kundige oë en jare se ondervinding van die beoordelaars, word die honde teen mekaar opgeweeg en 'n wenner word dan aangewys.
Celeste de Kock by Kleinsandfontein Hannah.
Die South African Boerboel Breeders Society (SABBS) hou wêreldwyd streekskoue waaraan al die honde van daardie streek en omliggende streke kan deelneem om die gesogte titels te wen. Al hierdie skoue bou op na die jaarlikse internasionale skou waar die beste boerboel in die wêreldtitel, aangekondig word.
Vanjaar vind hierdie skou op 5 November in Stellenbosch plaas.
Hy het die boerboel as hanteer-baar, betroubaar, gehoorsaam, opleibaar en intelligent beskryf. "Hierdie eg Suid-Afrikaanse ras is selfversekerd en vreesloos en het 'n sterk beskermingsdrang en is lojaal teenoor al sy gesinslede.
"Hy is 'n hond wat dapper is wanneer bedreig word en is altyd standvastig. Hy is ook kalm en het 'n selfversekerde houding wanneer genader word. Hulle kan van jongs af opgelei word en het 'n ferm hand nodig.
Vir meer besonderhede bel De Kock by 082 555 5428.
Celeste de Kock is Achilles se hanteerder. Hier is hy drie maande terug aangewys as die beste reun en reserwe kampioen by die Oudtshoorn-skou. By hulle is Christo de Kock.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'