GEORGE NUUS - As jy hou van ou karre en nostalgies raak daaroor, moet jy 'n draai gaan maak by die George-museum waar 'n uitstalling van Model-T Ford motors plaasvind.
Maar jy moet spring want dit is nog net te sien tot Saterdag 6 Januarie. Dit vind plaas onder die vaandel van die Suid-Kaap ou Motorklub/Southern Cape Old Car Club.
Die uitstalling is om saam te val met Ford se 100-jarige teenwoordigheid in Suid-Afrika.
Die motors kan van Maandae tot Vrydae tussen 8:00 en 16:00 en Saterdae van 9:00 tot 12:00 besigtig word.
Altesaam vier Model-T Ford motors is te sien:
- 'n 1913 twee sitplek wat aan Philip Kuschke behoort;
- 'n 1915 twee sitplek wat aan Kobus Botha behoort;
- 'n 1921 twee sitplek wat aan Mike Alexander behoort en
- 'n 1926 twee sitplek wat aan Phillip Roscher behoort.
Kuschke het gesê twee van die motors is van Kanadese oorsprong en twee van Amerikaanse oorsprong.
Volgens hom is die versameling uniek, maar nie raar nie. Uit die register van die Model-T Ford klub van Suid-Afrika is daar 130 van die motors in die land.
Die uitstalling is 'n baie goeie verteenwoordiging van die Model-T era.
- Die George Ou Motorskou vind op 10 en 11 Februarie plaas by Eden HTS.
- Ford in Suid-Afrika se teenwoordigheid dateer van November 1923 waar die maatskappy in die destydse Port Elizabeth gebaseer was.
- Twee kunsuitstallings vind ook by die museum plaas. Die een hou aan tot 24 Januarie en die ander tot 31 Januarie.Dit vind plaas onder die vaandel van SCAVA. Rene Schribante, voorsitter van die SCAVA, het gesê die kunswerke is gemaak deur plaaslike kunstenaars van regoor die Tuinroete. Die kunswerke is te koop en besoekers is welkom.
Philip Kuschke by die uitstalling van Model-T Ford motors in die George-museum. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’