GEORGE NUUS - Al ooit gewonder hoe 'n kundige iets uit klip kerf? Dan moet jy op Erfensidag, 24 September, by die ou tolhuis in die Montagupas 'n draai maak.
Joost Pycke, 'n klipmeester wat betrokke was by die restourasie van die tolhuis, gaan 'n demonstrasie gee van die besondere kunsvorm. Hy gaan onder meer 'n spreuk uit klip kap, "Werk is kos, maar kuns is lewe."
Verlede jaar is 'n miniatuur tolhuis wat uit klip deur Pycke gekap is, onthul. Die tolhuis, wat meer as 170 jaar oud is, is een van George se mees historiese geboue.
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, het Dinsdag gesê almal is welkom en toegang is gratis.
Verrigtinge begin om 09:00 en sal tot 15:00 aanhou. Verversings soos roosterkoek, vetkoek, pannekoek en koffie sal beskikbaar wees.
Die Donkiekar-boereorkes sal vermaak verskaf en veteraantrekkers kan besigtig word. 'n Spesiale kultuuruitstalling sal ook van naderby bekyk kan word. Besoekers sal kan sien hoe lyk 'n ou koffiemeul, 'n botterkarring en 'n kersebank.
Volgens Stols gaan 'n veiling ook gehou word van onder meer bottels wyn en 'n skildery van die Donkiekar-boereorkes.
Pycke sal ook mense op ritte neem op 'n motorfiets met 'n syspan.
Die geskiedkundige tolhuis in die Montagupas.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'