Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Twee kleuters van Noorweë, Guilia (6) en Elisa (4) was so aangegryp deur die brande verlede jaar in die George-omgewing dat hulle drie nood-speelgoedkarretjies aan die Garden Route-distriksmunisipaliteit geskenk het.
Hul oupa, Andy Lamont, is een van George se bekendste inwoners.
Lamont was in die verlede burgemeester van die Eden-distriksmunisipaliteit wat later die Garden Route-distriksmunisipaliteit geword het.
Hulle het in Desember en Januarie saam met hulle ma, Marguax by hul oupa en ouma in die Suid-Kaap kom kuier. Ongelukkig kon hulle toe nie die karretjies oorhandig nie omdat dit vakansietyd was. Die drie karretjies is 'n polisiemotor, 'n ambulans en 'n brandweer.
Volgens Lamont het sy twee kleindogters verlede jaar op televisie van die brande gesien. Hulle het ook foto's gesien. "Hulle het toe besluit hulle wil help en besluit om die karretjies te gee."
Toe hulle laat verlede jaar in George aankom, het oupa Andy self vir hulle die berge gaan wys wat gebrand het.
"Die karretjies is hul beskeie manier om te help. Dit kom uit hul harte. Hulle is baie klein," het Lamont gesê.
Die kleinkinders het intussen teruggekeer.
Die oorhandiging van die karretjies in die Garden Route-distriksmunisipaliteit se Rampbestuursentrum. Hier staan Clice Africa, hoof van gemeenskapsdienste, Gerhard Otto, hoof van rampbestuur, Memory Booysen, die burgemeester en Freddy Thaver, die munisipale brandweerhoof.
Lamont kon as gevolg van persoonlike redes nie self die karretjies aan die Garden Route-distriksmunisipaliteit oorhandig nie.
Hy het die George Herald gevra om dit namens hom en sy kleindogters te doen.
Memory Booysen, burgemeester van die distriksmunisipaliteit, het met die ontvangs van die karretjies gesê dit is 'n baie goeie gebaar.
"Dit maak my emosioneel. Dit is kinders. 'n Mens weet dat kinders uit hul harte optree. Die karretjies is presies van al die noodinstansies wat betrokke is."
Kyk 'n video hieronder:
Booysen het ook bevestig dat die Garden Route-distriksmunisipaliteit, 'n werksessie einde Februarie oor die brande van 2017 en 2018 in die streek gaan hou. Die Knysna-brande in 2017 en ook die brande in George en ander dele van die streek in 2018, sal bespreek word. 'n Volhoubare gebeurlikheidsplan sal opgestel en oorweeg word.
Memory Booysen, burgemeester van die Garden Route-ditriksmunisipaliteit, met die speelgoedkarretjies.
Volgens Booysen sal daar tydens die geleentheid ook dankie gesê word aan al die belanghebbendes wat gehelp het met die bestryding van verlede jaar se brande.
Gerhard Otto, hoof van die munisipaliteit se rampbestuurafdeling, het gesê dit is 'n baie goeie gebaar.
Die kleuters stel 'n voorbeeld vir anders kinders om op te let na brande. Die karretjies gaan by die ingang van die Rampbestuursentrum in George uitgestal word.
Freddy Thaver, die munisipale brandweerhoof, het gesê dit is wonderlik dat die kleuters van Noorweë die speelgoedkarretjies geskenk het. "Dit wys hoe ver het die nuus van die brande bekend geword."
Clive Africa, hoof van gemeenskapsdienste van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, het gesê dis goed dat kinders ook bewus is van sulke noodsituasies.
Gerhard Otto, hoof van rampbestuur van die Garden Route-distriksmunisipaliteit en Memory Booysen, die burgemeester, met die speelgoedkarretjies. Foto's: Eugene Gunning
Lees 'n verwante artikel: Distriksmunisipaliteit help in Overstrand
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'