GEORGE NUUS - Die Gwaiingrivier Aksie Groep sê hulle is ongelukkig oor die George-munisipaliteit blykbaar nie aandag skenk aan die strand by die Gwaiingriviermond nie. "Ons het opgemerk dat sekere strande nog steeds aan die agterspeen suig as dit by dienslewering kom.
Die afgelope weke was daar 'n baie traak-my-nie-agtige houding van amptenare van die munisipaliteit," sê Braam America, hul woordvoerder. Hy sê eerstens het hulle 'n probleem met die vrylike toegang van diere by die Gwaiingriviermond. Dit terwyl 'n groot kennisgewingbord op die strand duidelik sê wat toelaatbaar is en wat nie.
"Dit wil voorkom of die Wetstoepassings-beamptes nie hierdie strand as deel van hul verantwoordelikheid sien nie. Ons as groep glo dat ons hande moet vat met die plaaslike regering om ook meer toerisme na hierdie strand te lok."
Die groep se frustrasie en klagtes spruit uit die traak-my-nie-agtige houding van sommige diere-eienaars. Volgens America was die oop stukkie strand vol perde waarmee resies in die sand gery is.
"Die sand is sag. Ek het gesien hoe 'n perd val. Hy kon sy nek gebreek het en dan sou dit 'n gedoente wees om die dier daar uit te kry."
America sê dit is belangrik dat 'n diensleweringsooreenkoms soos gedefinieer in Artikel 1 van die Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels Wet, 2000 (Wet Nr 32 van 2000); "dier" sluit in 'n perd, bees, donkie, skaap, bok, vark, volstruis, hond, kat of ander huisdier of voël of enige kruising van sodanige diere en "diere" het 'n ooreenstemmende betekenis; nie op ons strand toegelaat word soos die geval op ander strande nie. Volgens America is die mense, wat blykbaar onder die indruk was dat dit 'n oop strand is, later weg op versoek van die DBV.
Hoof van wetstoepassing, Richard von Wielligh, sê die munisipaliteit bevestig dat geen diere by Gwaiingriviermond of ander strande toegelaat word nie.
"Honde wat aan leibande vasgemaak is mag op die plaveisel-gedeeltes wees, maar mag nie vrylik rondhardloop nie en die eienaars moet die area wat hul honde bevuil, skoonmaak." Hy sê die munisipaliteit het geen spesifieke klagtes op rekord in verband met diere by Gwaiing die afgelope tyd nie. Volgens hom was daar strandmonitors wat Wetstoepassing gehelp het om reëls toe te pas.
"Ontevrede strandgangers kan Wetstoepassing by 044 801 6350 skakel of na-ure by 044 801 6300. Selfoonfoto's om hul saak te ondersteun sal help."
Die oortreder kan 'n boete opgelê word en in die hof verskyn indien die boete nie betaal word nie - die klaer sal dan beskikbaar moet wees om in die hof te verskyn.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'