SUID-KAAP NUUS - Die tema van die 25ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) geborg deur Absa, is Kultuurdiere en in pas met die tema is vier groot kunstenaars vir hul bydrae tot die kunste by die bekendstelling in Kaapstad vereer.
Athol Fugard is vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir sy lewensbydrae tot die teater. Amanda Strydom het die prys vir haar lewensbydrae tot musiek ontvang. Sy is die enigste kunstenaar wat by elk van die KKNK se 24 feeste opgetree het.
Lizz Meiring is vereer vir haar bydrae as aktrise, skrywer, regisseur en mentor asook vir haar uitsonderlike werk vir die Teaterbystandsfonds en haar ondersteuning van jong talent en ander in die bedryf. Sy het die prys vir diens aan die kunste ontvang.
Lynelle Kenned het reeds groot indruk gemaak as aktrise, klassieke sangeres en in blyspele, en het al verskeie pryse verower. Sy ontvang die prys vir jong stem wat nog 'n groot impak op die kunstebedryf sal hê. Al vier kunstenaars is betrokke by KKNK25.
Volgens Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, is daar in 2019 talle debuutproduksies en uitstaande kunstenaars te sien.
"Die 25ste jaar is natuurlik 'n nostalgiese viering van 'n kwarteeu van kunste in die Klein-Karoo en 25 jaar van demokrasie. Ons ondersoek, herbesoek, stof af, maar ons kyk ook vorentoe en soos gewoonlik sal die fees ervarings uit die boonste rakke vir die almal bied."Die volledige program word vroeg in Januarie bekend gemaak, maar 'n paar hoogtepunte is reeds bekend.
Die vlagskip-dramavertoning van die KKNK25-fees is Koningin Lear, Antjie Krog se vertaling van Tom Lanoye se herverbeelding van die klassieke Shakespeare-werk. Marthinus Basson is die regisseur, met onder andere Antoinette Kellermann, Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais en Neels van Jaarsveld in die rolverdeling.
Wat visuele kuns betref, is daar nie 'n feeskunstenaar aangewys nie, maar die KKNK se kunskurator, Lucia Boer, het aangekondig dat 'n retrospektiewe uitstalling van die KKNK se feeskunstenaars oor die jare die kern sal vorm.
Lizz Meiring het die prys vir diens aan die kunste ontvang.
Die KKNK25-feesprogram is vroeg Januarie beskikbaar by www.kknk.co.za en kaartjies kan van 18 Januarie by Computicket gekoop word. Bespreek verblyf by 044 203 8600.
"Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus."