GEORGE NUUS - Die saak teen die minderjariges van Lawaaikamp, wat vroeër vanjaar van dieremishandeling aangekla is, is op 12 Mei in die plaaslike hof afgehandel.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, kapt. Malcolm Pojie, het die hof gelas dat die kinders aan 'n afwentelingsprogram deelneem wat deur die departement van maatskaplike ontwikkeling gefasiliteer sal word.
Tydens dié proses sal die seuns aan verskeie gemeenskapsdiensprogramme blootgestel word, wat insluit dat hulle eersdaags by die Tuinroete-DBV begin diens doen.
Die kinders, al drie tussen die ouder-domme van 14 en 15, is daarvan aangekla dat hulle op 22 Maart honde in Lawaaikamp mishandel het.
In 'n video wat op sosiale media ge-sirkuleer het, kon gesien word hoe een van die seuns 'n hond aan 'n leiband in die rondte deur die lug swaai terwyl sowat nege of tien van sy vriende toekyk. Die hond waai soos 'n lap deur die lug terwyl die seun in die rondte tol en daar kan duidelik gehoor word hoe die ander kinders hom aanmoedig en toejuig.
Daar was drie honde daardie middag in dié voorval betrokke waarna die DBV na die toneel uitgeroep is.
Salomé Bruys, die Tuinroete-DBV se hoofinspekteur, sê dit was geensins vir haar 'n maklike besluit om die kinders by hulle diens te laat doen nie, maar voel dat dit die beste opsie was.
"Dit was beslis nie 'n maklike besluit nie, maar ek sien geen nut daaraan vir hulle om by 'n ander organisasie diens te doen nie. Die grootste rede hoekom ek ingestem het, is dat hulle nog jonk genoeg is vir ons om 'n verskil in hul lewens en hul denkwyse rondom diere te kan maak.
Leerlinginspekteur van die DBV, Vanessa Lucas, op die toneel toe hulle destyds die honde gered het.
"Hulle is dalk nie met die nodige empatie teenoor diere grootgemaak nie en daarom besef hulle nie dat diere, soos ons, ook lewende wesens met gevoelens is nie," sê Bruyns.
"Ek dink ons sal meer vermag as ons bereid is om met hulle te werk en te kyk of ons hulle denkwyse teenoor diere kan verander. Al verander ek net één se houding teenoor diere en daardeur hoe hulle in die toekoms teenoor diere gaan optree, het ons baie meer vermag as 'n boete wat hul ouers sou moes betaal en waarvan die kinders nie direk die gevolge sou dra nie."
Intussen is twee van die honde reeds aangeneem.
Vorige arikels:
- Honde gemartel, kinders voor hof
- Hoekom kinders diere mishandel
- Honde draai by die dood om na marteling
- Dog beaten, hung as 'punishment'
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'