GEORGE NUUS - Die vraag hoekom sommige kinders genot daaruit put om diere te mishandel, is deur talle lesers gevra ná verlede week (25 Maart) se George Herald op die rakke verskyn het.
Die artikel, Honde draai by die dood om na marteling, handel hoofsaaklik oor jong kinders wat drie honde op verskeie wrede maniere probeer doodmaak.
Gelukkig vir die honde kon die plaaslike DBV daarin slaag om die honde te red en na veiligheid te bring.
Tydens 'n gesprek met 'n plaaslike sielkundige en groot diereliefhebber, Pierre Janse van Rensburg, het dit aan die lig gekom dat dieremishandeling inderdaad 'n komplekse probleem is wat te make het met genetiese-, biologiese- en omgewingsfaktore.
Hy sê dit kom baie voor by kinders wat uit aggressiewe huishoudings kom of sekere psigiatriese versteurings het.
"Die genetiese difficult child-temperament word gesien in sekere kinders wat van nature aggressief is. Hulle toon van jongs af antisosiale gedrag en rebelleer teen gesag of dissipline. Sommige toon ook ontwikkelingsagterstande of leerprobleme, wat hul oordeelsvermoë benadeel," sê hy.
Volgens hom dra ander impulskontrole-probleme, soos aandagtekorthiper-aktiwiteitsversteuring, tot die wrede gedrag by.
Wat veroorsaak die gedrag?
Janse van Rensburg sê gedrag kan toegeskryf word aan verstandelike inperking as gevolg van byvoorbeeld fetale alkoholsindroom. Dwelmmisbruik, disfunksionele gesinne met alkoholmisbruik, dwelms, gesinsgeweld, kindermishandeling of onderliggende psigiatriese versteurings, kry ook die skuld.
Nog faktore wat daartoe kan bydrae dat kinders geweld teenoor diere toon is neurologiese ontwikkelingsfaktore.
"Kinders en jeugdiges se breinfunksies is nog in die proses van ontwikkeling en die frontale lobbe wat 'n rol speel in oordeel, besluitneming, beplanning, antisipasie en veral ook emosionele- en gedragsbeheer, ontwikkel eers ten volle in jou middel twintigs," sê hy.
Jeugdiges se sentrum van plesier en opwinding, die adrenalien-aangedrewe amigdala van die brein, is dus vroeër ontwikkel as die emosionele en gedragsbeheersentrum van die brein en hulle reageer dus dikwels op die impulsiewe deel - hulle voel en reageer, maar dink nog nie aan die gevolge van hul dade nie. Hulle het dikwels nog nie empatiese ontwikkeling nie, maar selfs in ag genome die ontwikkelingsfaktore is dieremishandeling soos uitgebeeld erg patologies en afwykend," verduidelik hy.
Die DBV se veldinspekteur met een van die honde wat hulle gered het.
Swak opvoeding
Janse van Rensburg sê goeie opvoeding kan 'n allemuntige verskil maak. Hy sê ouers wat van kleins af nie hul kinders leer hoe om diere met sorg te hanteer nie, of wat die kind nie vermaan as hy of sy die hond of kat seermaak nie, dra beslis by tot dieremishandeling.
Ouers wat nie aan hul kinders empatie leer nie, ouers wat oningelig en onbetrokke is, wat nie kinders leer onderskei tussen reg en verkeerd nie, wat hulle nie leer dat diere ook emosies het en net so seerkry soos mense nie en ook ouers wat 'n swak voorbeeld vir hul kinders stel deur self diere te mishandel en konflik op 'n gewelddadige wyse oplos, kan ook blameer word.
Groepsdruk
Adolessente soek aanhoudend aan-vaarding en is dikwels baie sosiaal gedrewe. Hulle word maklik beïnvloed deur die etos van hul omgewing asook 'n kultuur van misdadigheid en kriminaliteit in die strate en huise. Kinders wat diere mishandel leer dat geen struktuur of dissipline in die huis en in die gemeenskap 'n normale deel van die samelewing is.
Sielkundige faktore
Soms verplaas kinders hul angs en woede na 'n hulpelose dier. "Hy speel sy eie pyn uit deur dit op 'n magtelose dier te projekteer en dikwels is hulle self magteloos in hul gesinstrauma en poog hulle om iets te beheer deur dan 'n dier met geweld en barbarisme te beheer. Wreedheid teenoor diere, veral as dit patroonmatig is, is 'n rooi vlag ten opsigte van die moontlike ontwikkeling van 'n antisosiale persoonlikheid (psigopatie) - wat eers na die ouderdom van 18 gediagnoseer kan word," sê Janse van Rensburg.
Wat volgende
Hoofinspekteur van die Tuinroete-DBV, Salomé Bruyns, het bevestig dat hulle 'n saak van dieremishandeling aangemeld het na aanleiding van die voorval. Al drie die honde wat tydens die insident mishandel was, kon gered word en is deur die DBV gekonfiskeer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'