Gallery
GEORGE NUUS - Die reg om versorg te word, beskerm te word en basiese onderwys te ontvang. Hierdie is regte wat as vanselfsprekend aanvaar word, maar dit is juis dié regte wat maklik geskend word by kinders met gestremdhede.
Só het Glen Fortuin, 'n gemeenskapsontwikkelingswerker van George vereniging vir persone met gestremdhede (VPG) gesê, op die vooraand van nasionale kinderbeskermingsweek wat vanjaar van 30 Mei tot 4 Junie strek.
Volgens Fortuin is daar vir kinders met gestremdhede 'n hoër risiko om verwaarloos of misbruik te word: "Dit is in besonder so vir die met intellektuele gestremdhede. Sulke kinders word meer gereeld vir lang periodes misbruik en dit is meer waarskynlik dat hulle in hierdie mishandeling sal bly.
"In sommige gemeenskappe word kinders weggesteek weens die stigma rondom gestremdheid en word hulle dan weerhou van dienste wat hul basiese regte aanspreek."
Ondersteuning
George vereniging vir persone met gestremdhede bepleit toegang tot onderrig deur bewusmakingsveldtogte, deur ouers te bemagtig oor hul kinders se regte en bied ondersteuning om dié reg te verwesenlik, in samewerking met belanghebbende organisasies, regeringsdepartemente en skole.
"Vir sommige kinders met buitengewoon hoë onderteuningsbehoeftes is selfs toegang tot spesiale skole nie so uitvoerbaar nie. Hierdie geleenthede word vir hulle voorsien by Optima-dagsorgsentrum in Pacaltsdorp," het Fortuin gesê.
"Optima-dagsorgsentrum is die hart van ons organisasie en hier belê, bemagtig en hef ons ons kinders met ernstige gestremdhede op. Ons bied daagliks individuele en groepstimulasie en -terapie vir 50 kinders met erge intellektuele en/ of fisiese gestremdhede.
Fotogalery: Nasional kinderbeskermingsweek: Optima-dagsorgsentrum
"Optima maak ook voorsiening vir 20 volwassenes met gestremdhede wat dan verseker dat ontwikkeling nie gestaak word wanneer die kind 18 jaar oud word nie."
Ondersteuners van George vereniging vir persone met gestremdhede (VPG) het op 20 April aan 'n werksessie oor selfbeeld deelgeneem. Hierdie ondersteuners bied hulp aan portuurgroepe en is self mense met gestremdhede.
Covid-19 uitdagings
Weens die pandemie en inperking het baie ouers of voogde hul werk verloor, of minder ure begin werk. Hulle was genoodsaak om hul kinders uit die sentrum te onttrek omdat hul nie meer die nominale skoolfonds van R500 kon bekostig nie, het Fortuin gesê: "Dit het 'n direkte invloed op die organisasie se finansies gehad, wat op die beste van tye maar gesukkel het."
"Tydens die hoër vlakke van inperking waar kinders tuis moes bly het ons nie altyd geweet of kinders darem 'n maaltyd het nie, en stimulasieprogram of -terapie het stilgestaan. Ons kon wel op 'n latere stadium uitgaan en individuele sessies by hul huise aanbied."
"Ons sentrum moes al twee keer sluit as gevolg van positiewe Covid-19-gevalle en die feit dat ontsmettingsdienste in hierdie tydperk baie duur geword het," het hy gesê.
Maria Hartzenberg (21) geniet haar aktiwiteit. "Elke kind is uniek met hul eie leerstyl en leerspoed." - Robert John Meehan
Een van die grootste uitdagings bly egter die sentrum se vervoerprobleme. "Ons sukkel met voertuie wat konstant breek, wat verhinder dat dienste effektief gelewer kan word. Die koste vir herstelwerk is enorm wat die herstel van voertuie amper onmoontlik maak met ons beperkte begroting," het Fortuin gesê.
Vir meer inligting kontak George vereniging vir persone met gestremdhede (VPG) by 044 878 0369.
Jamie-Lee Witbooi (10) gee 'n mooi glimlag terwyl sy strekoefeninge doen vir posisionering.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'