GEORGE NUUS - Die verhoor van die 54-jarige Timothy Ova, wat daarvan aangekla word dat hy twee klein dogtertjies, Jacorene Vaaltyn (9) en Sharon Arries (10), van Albertinia in September 2022 vermoor het, het vanoggend, Maandag 23 Oktober, in die rondgaande hooggeregshof in George begin.
Ova staar twee aanklagte van moord, een van dwarsboming van die gereg, een van die onwettige besit van ammunissie en een aanklag van onsedelike aanranding, wat spruit uit 'n voorval wat in 1999 in die Kaap plaasgevind het, in die gesig.
Hy het onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hom.
Ova is op 23 September in hegtenis geneem ná Vaaltyn en Arries se liggame op 22 September by sy woning in Jan Fiskaalstraat ontdek is.
Hulle is die vorige dag deur familie as vermis aangemeld.
Die liggaam van die een slagoffer is in 'n gat onder ‘n bed gevind en die ander liggaam buite in ‘n blou plastiekdrom. Beide liggame was met lakens toegedraai.
‘n Nadoodse ondersoek is op die oorledenes in George gedoen. Beide slagoffers is weens versmoring dood en daar was glo sand in elk se lugweg. Die meisies is vermoedelik gelyktydig vermoor.
Volgens die polisie was daar geen sigbare tekens van seksuele geweld nie.
Ova is sedert sy in hegtenisname in aanhouding. Die verhoor, met sowat 30 getuies, is vir die volgende drie weke op die hof rol geplaas.
Vorige artikels:
- Verhoor van vermoorde Albertinia meisies begin
- Voorverhoor van Albertinia moordsaak het afgeskop
- Moordverdagte se saak uitgestel
- Verdagte in dubbelmoord bly in aanhouding
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’