GEORGE NUUS - 'n Ma van George sê dit is te danke aan haar selfverdedigingsopleiding, dat sy op Maandag 6 September 'n vermeende kinderdief laat les opsê het.
"'n Ma se grootste vrees het gisteraand waar geword," sê Hanlie Nel in 'n plasing op die Facebook-groep, Georgiete Staan Saam.
Volgens Nel was sy en haar vierjarige dogtertjie van haar ouers se huis in die middedorp op pad huis toe, toe hulle omstreeks 18:15 by 'n winkel in Merrimanstraat stilhou en 'n onbekende man haar dogter uit haar hand probeer gryp het.
"Ons was byna in die winkel toe die man haar probeer gryp. Gelukkig het ons hande vasgehou. As dit nie vir my selfverdedigings-opleiding was nie, kon dinge baie anders geëindig het," vertel Nel.
Maar die man het duidelik nie besef dat hy met die verkeerde ma moeilikheid gesoek het nie. In stede daarvan dat Nel histeries geword het, het sy kalm gebly tydens die voorval en die man met die vuiste bygedam voor hy op die vlug geslaan het.
"Ek het seker so twee houe ingekry voor hy weggehardloop het. Ek wou hom agternasit, maar kon nie my kind alleen in die winkel los nie. Ek sal beslis sy gesig en sy kleredrag onthou," vertel sy.
Nel het intussen 'n saak by die plaaslike polisie aanhangig gemaak en waarsku ouers om te alle tye bewus te wees van wat rondom jou aangaan. Sy stel ook voor dat kinders en vroue by een van die vele plekke in George aansluit vir selfverdedigingskursusse.
"Ek wil ook die winkeleienaar bedank vir sy bystand ná die voorval en die oom wat in die winkel was en my dogtertjie se aandag afgetrek het tydens die voorval," sê Nel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'