Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die adjunk uitvoerende direkteur van AgriSA, Christo van der Rheede, het Donderdagaand geen doekies omgedraai oor die gevaar van die regering se pad van grondonteiening sonder vergoeding nie.
Hy was die gasspreker tydens die Oudtshoorn besigheidskamer se gala-aand by De Opstal. Hy het gesê as daar aan die grondwet getorring word om politieke ideologieë na te jaag, val demokrasie. Van der Rheede het klem gelê op die enorme rol wat kommersiële landbou in die land se voedselsekerheid en die ekonomie speel. Volgens hom is daar tans ongeveer 35 000 kommersiële boere in die land en voedselsekerheid word deur ongeveer 7 000 van hulle gedryf.
“As kommersiële landbou val, val die waardeketting en dan val die voedselsekerheid.”
Volgens hom is die ANC politiek vergiftig en gebou op kompromieë met die uitsluitlike doel van selfverryking. “Ramaphosa se grootste uitdaging is die agendas in die ANC. Daar lê ‘n groot stryd voor, veral omdat hy self kompromieë moes aangaan.”
Van der Rheede het verskeie statisitieke aangehaal wat duidelik daarop wys dat grondhervorming wat reeds plaasgevind het, klaaglik misluk het. “Die staat het reeds R40 miljard aan grondrestitusie spandeer met absoluut niks om daarvoor te wys nie. Om lappies grond links en regs uit te deel is van geen nut nie.”
Volgens hom lê die oplossing in vennootskappe met opkomende boere wat reeds bewys het dat hulle die pyp kan rook. “Daar is ongeveer 250 000 bruin en swart boere. Vat hande met hulle en bou landbou se toekoms deur hulle by kommersiële landbou te betrek en seker te maak dat hulle tot voedselsekerheid bydra.”
Gideon Badenhorst, voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer.
Gaste by De Opstal tydens die besigheidskamer se gala-aand.
"Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus."