GEORGE NUUS - Op Donderdag 13 September is aan Karel Schoeman, een van ons land se grootste skrywers, die erkenning en waardering wat hom toekom, gegee.
André Arnoldi en Kristi Herbst, gaste vanuit ons buurleeskring, Groot-Brakrivier, het in 'n informele gesprekgeleentheid Karel Schoeman se lewe en werke bespreek. Almal het dit geweldig geniet.
Karel Schoeman is op 26 Oktober 1939 op Trompsburg gebore. Sy ouers skei toe hy drie jaar oud was en hy word in talle opsigte Nederlands grootgemaak deur sy ma. Inderwaarheid het Schoeman homself sy lewe lank as 'n Europeër beskou alhoewel, buiten vir sy eerste werke, is al sy romans in Afrikaans.
Dit was, het hy self laat blyk, die taal waarin hy hom die beste kon verwoord. Schoeman was 'n geweldige produktiewe skrywer. Hy was romanskrywer, biograaf en historikus en het altesaam oor die 100 werke die lig laat sien.
Daar is blykbaar nog heelwat manuskripte wat wag om gepubliseer te word. Sy formidabele navorsingsvernuf het in sy nie-fiksie en romans neerslag gevind, veral in sy werke oor die Vrystaat, sy ma se vaderland Nederland, en daarby aansluitend, die geskiedenis van die vroeë Kaap. Karel Schoeman het hom nie gesteur aan die 24 toekennings wat hy ontvang het nie, en het nooit die toekenningsaande bygewoon nie. Tog, het hy gesê, die geldjie is nie te versmaai nie.
Die belangrikste literêre toekennings was seker die drie Hertzogpryse. Die enigste toekenning wat hy persoonlik ontvang het, was die Orde van Ikhamanga, 'n toekenning vir uitsonderlike prestasie deur oud-President Nelson Mandela aan hom toegeken in 1989. Sy volledige toespraak by ontvangs was: "Dit is 'n besondere eer vir die Afrikaanse taal."
Sy stem het stil geword op 1 Mei 2017. Hy het na sorgvuldige beplanning en gesprekke met diegene wat na aan hom was, selfdood toegepas. In sy laaste brief sê hy dat hy nie selfdood blindelings kan aanbeveel nie; dit is 'n baie persoonlike besluit, maar dat hy hoop dat sy dood sal lei tot veranderde wetgewing om mense toe te laat om met waardigheid te sterf.
Sy absolute indrukwekkende literêre nalatenskap is vir ons belig deur 'n boekuitstalling wat Elmine Vorster van die George-biblioteek aangebied het.
Almal teenwoordig kon 38 boeke hanteer met die versekering dat dit in die biblioteek is.
Ons wil vir Elmine, en deur haar die George-biblioteek, hartlik bedank vir die voortdurende samewerking. Dit word werklik baie waardeer.
Artikel: Elbie Schoeman
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'