TUINROETE NUUS - Die bedrogsaak teen vier senior amptenare van die Kannaland-munisipaliteit is verlede Woensdag in die Oudtshoorn-streekhof vir pleit en verhoor tot September uitgestel.
McGrandile Makier (43), menslike hulpbronbestuurder, Hendrik Barnard (48), direkteur: korporatiewe dienste, Morné Hoogbaard (46), munisipale bestuurder en Nigel Delo (48), voormalige hoof van finansies, is verlede jaar 25 November deur die Valke op aanklagte van bedrog in hegtenis geneem.
Oudtshoorn Courant het berig daar word beweer dat hulle die munisipaliteit uit meer as R338 miljoen bedrieg het en hulself verryk het deur bedrieglike aanstellings in senior poste te maak.
Borgtog van R15 000 elk is in die Ladismith-landdroshof aan die vier toegestaan waarna die saak na die Oudtshoorn-streekhof oorgeplaas is.
Die staat beweer dat die beskuldigdes hulself verryk het deur ondermeer bedrieglike aanstellings in senior poste te maak asook onregmatige oortyd- en verlofuitbetalings.
Die staatsaanklaer, adv. Razia Valley-Omar, sowel as die verdagtes se drie regsver-teenwoordigers, het die hof Woensdag meegedeel dat hulle gereed is om met die verhoor te begin.
Die regsverteenwoordigers het op 'n vraag van die landdros ook bevestig dat hulle hul kliënte meegedeel het dat hulle tot 15 jaar gevangenisstraf opgelê kan word indien hulle skuldig bevind word.
Hierna is die saak deur streeklanddros Sylvia Mandla vir drie dae se verhoor, van 5 tot 7 September, uitgestel omdat dit die eerste datums is wanneer al die regs-verteenwoordigers beskikbaar is.
Die beskuldigdes se borgtog van R15 000 elk sowel as hul borgtogvoorwaardes is tot dan verleng.
Hendrik Barnard
Nigel Delo
Morné Hoogbaard
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'