GEORGE NUS - Mense wat hul voertuiglisensies in George moet hernu het uit ondervinding geleer dat jy reeds teen vyfuur soggens 'n plekkie in die ry moet kry as jy onder die toptien wil eindig.
Benewens die ry mense voor die hek wag sommige in hul motors, in 'n ry wat tot in Memoriumstraat krul, langs die verkeersligte.
Wanneer die hekke om 08:00 oopmaak hardloop die mense voor die hek na die kantore en hou resies met diegene wat met hul voertuie inry.
Talle klagtes oor die situasie word geopper, waaronder die lang wagtydperk in 'n abnormale lang ry, min kassiere om die kliënte te help en 'n aanlynstelsel waarvoor baie mense nie kans sien nie. Verteenwoordigers van plaaslike motorhandelaars is hoogs gefrustreerd omdat dit deesdae weke neem om 'n voertuig te registreer.
George-munisipaliteit se woordvoerder, Athane Scholtz, het vroeër by navraag gesê hulle verstaan die frustrasie, "maar doen werklik alles om te probeer om lisensies so spoedig moontlik uit te reik, gegewe die beperkings wat die Covid 19-pandemie op die oorblywende aantal amptenare het".
Volgens Gerhard Botha, wat Dinsdag-oggend reeds teen 04:50 voor die hek gaan wag het, was dinge maar net so erg pre-Covid-19. "Ek kan nie glo dat 'n plek soos George nie nog fasiliteite beskikbaar stel nie," het hy gesê. "Daar is derduisende mense wat hul lisensies moet hernu, maar twee kassiere." Scholtz voer aan dat die tipe en hoeveelheid van transaksies, asook die aantal kassiere, bepaal hoeveel persone op 'n dag gehelp kan word. "Soms is dit meer, soms minder," het sy gesê.
Die aantal kassiere is beperk as gevolg van Covid-19-maatreëls. Amptenare is ook uitgedun weens siekteverlof of omdat van hulle in isolasie is. "Daar is ongelukkig geen manier dat daar vooruit bepaal kan word hoeveel mense gehelp kan word nie. Die aantal kassiere sal meer word soos wat hulle uit isolasie kom en deur die mediese praktisyns gesond verklaar word," het Scholtz gesê.
Aanlynstelsel
Ofskoon heelwat mense met sukses van die aanlynstelsel gebruik maak om hul lisensies te hernu, werk die opsie nie meer na die
21-dae grasietydperk nie. Dit is ook nie 'n opsie vir diegene wat 'n motor vir die eerste keer wil registreer nie. "Ons gaan waarskynlik nou 'n tender verloor omdat hierdie kliënt nie sy R1 miljoen-trok kan gebruik nie," het 'n verteenwoordiger van 'n plaaslike handelaar verlede week gesê.
Die verteenwoordiger was twee weke gelede ook by die lisensie-afdeling, maar moes noodgedwonge na ses ure se wag met leë hande terugkeer werk toe.
Volgens Scholtz neem die aanlynstelsel langer, maar sal aansoekers beslis hulle lisensies ontvang. "Afhangende van omstandighede en die aantal transaksies behoort dit nie langer as twee weke te neem voordat die lisensieskyfie beskikbaar is nie," het sy gesê. "Huidige lisensies is geldig tot 21 dae na die vervaldatum op die skyfie - indien voertuigeienaars betyds aansoek doen behoort die skyfie beskikbaar te wees voordat dit verval het. Dit is baie belangrik dat aansoekers die bewys van betalings e-pos aan ál die e-posse wat beskikbaar gemaak is vir hierdie doel. Beamptes sal die transaksies verifieer en aanstuur vir prosessering.
"Grootmaattransaksies word tans na-ure gedoen aangesien daar tans slegs 'n beperkte aantal transaksies gedurende kantoorure gedoen kan word."
Motors krul om die hoek van Memoriumstraat, langs die verkeersligte, na die onderpunt van Hiberniastraat.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'