GEORGE NUUS - Groot opskudding is veroorsaak na 'n man van George (34) en sy dogter (11) besluit het om in 'n afgeleë deel van Wilderness, naby die Silwerrivier, met hulle babakatjie en 'n hond tydens die algehele inperking te gaan kamp .
Die man se suster het Dinsdag 31 Maart die plaaslike NSRI gebel nadat haar broer haar gebel het om te sê dat hulle rantsoene laag is. Die oproep is egter onderbreek en sy het nie weer daarna van hulle gehoor nie.
"Sy was besorg en het ons dadelik in kennis gestel. Sy het ons vertel dat sy haar broer en dié se dogter die vorige Donderdag, 26 Maart, by die begin van 'n staproete in Wilderness gaan aflaai het.
"Hulle was van plan om tydens die inperking te kamp en terug te keer wanneer die inperking verby is," sê NSRI Wilderness-stasiebevelvoerder, Garth Dominy.
Die man se broer is ook in kennis gestel waarna hy meer duidelikheid kon gee oor presies waar die kampterrein is waarheen die twee op pad was. Verskeie nooddienste en die polisie is in kennis gestel waarna 'n soektog na die twee begin is.
"Vier van ons lede het tot omstreeks 23:00 Dinsdagaand na die twee kampeerders gesoek, maar digte plantegroei het die soektog gekelder," vertel Dominy.
Die soektog is op Woensdag 1 April voortgesit toe toestemming van 'n plaaseienaar verkry is om deur sy eiendom te beweeg tot waar die afgeleë kampterrein is.
Die man, sy dogter, hulle babakatjie en die hond is later daardie dag gevind en veilig huis toe geneem.
"Hulle was baie verbaas dat daar 'n soektog na hulle begin is en het verskoning gevra oor die bohaai wat hulle veroorsaak het. Hulle was besig om op te pak om terug te keer huis toe, toe hulle gevind is," sê Dominy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'