GEORGE NUUS - Kabeldiefstal het nog 'n slagoffer in George geëis. Nelson Plaatjies (27) van Maraiskamp is doodgeskok tydens 'n beweerde poging tot kabeldiefstal verlede Donderdag, 4 November.
Die voorval het omstreeks 04:30 in Makrielstraat, Maraiskamp (naby Conville) plaasgevind.
Nog 'n persoon is beseer en is per ambulans na George-hospitaal geneem waar hy mediese behandeling ontvang het. 'n Dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek is geopen en die munisipaliteit het 'n saak van beskadiging van munisipale infrastruktuur aanhangig gemaak.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die elektriese gronddrade van die hoofkragpaal op die toneel uitgetrek. "Dit dui daarop dat die drade aan die oorhoofse drade moes geraak het, waarna die oorledene en nog 'n man geskok is."
Oor die afgelope vier maande het George-munisipaliteit 20 sake van diefstal en vandalisme geopen, en meer as agt mense is in hegtenis geneem. Die gemiddelde koste vir die munisipaliteit in terme van herstel en vervanging van kabels oor die afgelope ses maande is meer as R1 miljoen.
Opdraande stryd
Die munisipaliteit voer 'n opdraande stryd teen voortdurende onwettige verbindings en vandalisme van elektriese infrastruktuur. Hierdie situasie bekommer die munisipaliteit, het hul woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, gesê.
Sulke voorvalle is nie net geweldig duur wanneer materiaal vervang moet word nie, maar beïnvloed die elektrisiteitsvoorsiening aan die res van die gemeenskap, dit veroorsaak 'n verlies aan inkomste gedurende die tydperk wat die kabels herstel moet word, en in hierdie geval het 'n persoon sy lewe verloor, het Edwards-Klose gesê.
"Dit is uiters belangrik dat die polisie, munisipale wetstoepassing, amptenare, gemeenskapsleiers en inwoners saamwerk om hierdie kwessie van diefstal en vandalisme in ons gemeenskappe te beveg," het sy gesê.
Transnet bloei
Diefstal van oorhoofse kabels en vandalisme van Transnet-eiendom het die laaste tyd ook ongekende vlakke bereik. Transnet het gister bekendgemaak dat Transnet se spoorvragafdeling tussen Januarie en Oktober vanjaar meer as 'n 1 000 km koperkabels verloor het. Meer as 600 insidente van diefstal en vandalisme kom elke maand voor. 'n Sekerheidswag is verlede week tydens 'n aanval by die
Natalspruit-depot in Germiston dood. Van 29 Oktober tot gister, 10 November, is 55 km kabels gesteel - waarvan 10 km Maandag en Dinsdag gebuit is.
Rapporteer oortreders
Die munisipaliteit vra dat wetsgehoorsame burgers onwettige elektriese koppelinge by die polisie aanmeld sodra hulle daarvan bewus raak.
'n Onwettige koppeling plaas nie net die oortreder in gevaar van elektroskok, met die risiko van besering en dood nie, maar ook die res van die gemeenskap.
Onwettige koppelings moet aangemeld word by 044 801 9222 of na-ure by 044 801 6300.
George-munisipaliteit sal 'n beloning van R2 500 betaal aan enige persoon wat inligting verskaf oor vandalisme en diefstal voorvalle, waar die inligting lei tot die suksesvolle skuldigbevinding van die oortreder in 'n hof.
Toerusting wat deur die oortreders by die jongste voorval gebruik is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'