GEORGE NUUS - Die kiesersregistrasie-naweek het goed afgeloop, maar daar is nog kiesers wat nie geregistreer het om in die algemene verkiesing te kan stem nie. Dit is die boodskap van politieke partye na die afgelope registrasienaweek van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK). Sover bekend was daar geen negatiewe voorvalle in George tydens registrasienaweek nie.
By van die registrasiepunte was daar by tye meer verteenwoordigers van politieke partye as voornemende kiesers.
By van die stemlokale wat die George Herald Saterdag besoek het, het voornemende kiesers wat nog nie geregistreer het nie, drupsgewys opgedaag. Onder hulle was jong kiesers wat nog nooit voorheen gestem het nie.
By die George-stadsaal het adv. Gert van Niekerk van die VF Plus en DA-lede hande geskud. Onder die DA-lede was Iona Kritzinger. Sy het haar hond, Abigail saamgebring. "As Abigail kon stem, het sy beslis DA gestem," het Kritzinger gespot.
By die Conville-gemeenskapsaal het 'n gemoedelike atmosfeer geheers. Musiek het gespeel en ondersteuners het koelte in die skaduwee teen die warm son gesoek.
Verteenwoordigers van Icosa, die EFF, Good, die ANC, die DA, die ACDP en die PBI was selfs bereid om hulle verskille eenkant te skuif en saam vir 'n foto te poseer.
Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, het na die registrasienaweek gesê die party is baie positief oor die uitkoms van die naweek. Hy het bygevoeg: "My een klein bekommernis is dat daar nog heelwat mense is wat kan registreer en nog nie geregistreer het nie. Hulle het egter steeds die geleentheid om by 'n plaaslike kantoor van die OVK te kan registreer tot en met die dag van die aankondiging van die verkiesingsdatum."
Hy het veral 'n beroep op jongmense gedoen om te registreer.
Darryll Sauer, voorsitter van die ANC-substreek George, het gesê die naweek het baie goed afgeloop en daar was heelwat nuwe registrasies. Dit was van veral jongmense. Die ANC is ook baie dankbaar dat daar goeie samewerking was tussen die onderskeie partye.
Bazil Petrus, SAC-leier, het gesê die naweek het positief afgeloop, maar dit kon beter gegaan het.
Virgill Gericke, PBI-leier, het gesê die party is 100% tevrede.
"Die toestroom van mense na ons tafels (by die registrasiepunte) is 'n aanduiding van die soeke na verandering."
Brendon Adams van Icosa, het gesê meer mense het Sondag as Saterdag opgedaag. Die getalle was egter steeds min. Dit is veral jongmense wat nie opgedaag het nie. "Ons moedig mense om nog steeds te registreer."
Ofskoon die verkiesingsdatum nog nie bekend gemaak is nie, word algemeen verwag dat die verkiesing tussen Mei en Julie sal plaasvind. Dit wil voorkom of baie politieke partye hul beplanning doen met die veronderstelling dat die verkiesing in Mei sal plaasvind.
'n Gemoedelike atmosfeer het Saterdag by die Conville-gemeenskapsaal geheers en verteenwoordigers van politieke partye was selfs bereid om saam vir 'n foto te poseer. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'