GEORGE NUUS - Alhoewel Dag Zero in die Kaap geskrap is, is daar steeds gemeenskappe in en rondom die stad wat sonder water sit, en die junior stadsraad van George het besluit om in te spring en te help.
Dié groep leerders van vyf plaaslike hoërskole het saam besluit hulle wil graag 'n waterinsamelingsprojek by hul eie skole te begin, maar ook laerskole naby hulle gevra om deel van die projek te wees, wat baie gehelp het, vertel die groepie.
"Ons het die Connect the Drops-veldtog begin en elke leerder van elke betrokke skool gevra om 1 liter- en 5 liter-waterhouers na hul skool te bring."
Die junior stadsraad sê hulle weet nog nie presies waarheen hulle die water gaan stuur nie, maar is dankbaar vir elkeen wat sover gehelp het.
Aangesien dit nie 'n skoolprojek is nie, was leerders nie verplig om 'n bydrae te maak nie, so hulle het nog nie hul teiken bereik nie. Hulle hoop egter om voor die skole sluit nog water te kry, en vra dat leerders moet help insamel.
Leerders van die junior stadsraad wat betrokke is by die projek, van links: Nicholas Cato (York High), Jameal Booysen (George Hoër), Cheslin Gilbert (George Hoër), Robyn Franklin (Glenwood House), Lene Conradie (Outeniqua Hoër), Megan Kay Friesbar (PW Botha Kollege), Caitlin Fiegeland (George Hoër) en Justin Yawe (York).
Die lede van Hoërskool George sê hulle het twee laerskole genader en oor die projek ingelig.
"Ons het ook plakkate opgesit wat gehelp het om mense bewus te maak van die projek." Volgens die groep het hulle uiteindelik 'n barmhartige samaritaan gekry wat bereid is om die water Kaap toe te vervoer. Fiona Barron van die groep, Water for Paws, het ingestem om te help.
Van links: Nicholas Cato, Gabby Steyn, Nina van Zyl, Zen Bitirimoglu en Justin Yawe van York High.
Die leerders het Barron gekies omdat haar inisiatief verskeie mense en skole betrek om water vir diere in te samel. Alhoewel Barron water vir diere in nood verskaf, gaan sy help om die water wat ingesamel is, te neem na skole waar dit nodig is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'