Die talentsoeker Kim Meyers en haar span van Amerika was daar om die kinders te beoordeel. Juanique is toe gekies en genooi om volgende jaar van 17 tot 21 Junie 2015 deel te neem aan die Applause Rising Talent Showcase in Orlando.
Haar ma, Leana Ries, wenner van die Mrs Mzantsi Africa-skoonheidskompetisie, was daar om bystand te gee toe die senuwees begin knaag terwyl hulle ure lank in die hotelkamer gewag het vir die goeie nuus wat eers na middernag gekom het.
"Juanique wil beslis 'n loopbaan in die skoonheidsbedryf uitkerf en dis gewis 'n gulde geleentheid om deur die wêreld se talentsoekers raakgesien te word," vertel Leana wat ook verlede jaar die Mrs Western Cape titel gewen het.
Sy en haar man Johan, bedryf 'n Pick n Pay supermark op die dorp. Die heuglike nuus het egter te midde van die dood van haar (Juanique) se geliefde oom Sakkie Saayman gekom. Dis veral hy wat haar aangemoedig het om haar drome na te streef en sy het die prestasie aan hom opgedra.
Juanique, 'n Hoërskool Outeniqua graad 9-leerder, het eers deelgeneem aan Miss Western Cape for Rolemodels SA, in Kaapstad, waar sy gekies is as eerste prinses en ook aangewys is as die deelnemer met die beste persoonlikheid.
Ma Leana verduidelik, "Tydens die kompetisie was daar 'n Johannesburgse modelagentskap, Just You Model & Artist Ma-nagement, wat Juanique gekies het om as 'n fotogeniese model te werk. Sy is toe genooi om deel te neem aan hul jaarlikse kompetisie. Dis toe waar sy die Orlando uitnodiging gekry het. Die kinders en hul talent word daar bekend gestel aan wêreldwye topklas agente wat op soek is na vars, nuwe talent. Die blootstelling en ondervinding wat die kinders hier opdoen is 'n geleentheid van 'n leeftyd."

Leana Ries (44), die huidige titelhouer van die Mrs Mzantsi Africa is trots op haar dogter, Juanique Ries (15), wat so ver gekom het met haar skoonheidsloopbaan. "Ek sal alles in my vermoë doen om haar te ondersteun en by te staan," het sy vandeesweek trots gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'