GEORGE NUUS - 'n Handjievol Rosedale-inwoners het Vrydagoggend, 20 April, voor die George-hofgebou betoog vir die vrylating van Brenton Pato (27).
Pato is een van die vier jong mans wat van die moord op Gershwin Verlaat (22), verlede Desember, aangekla word.
Hy, Charldon Heynes (21), Marlen Willeman (19) en Kesharne Mostert (21) is reeds byna vier maande in aanhouding. Verlaat se liggaam is op 2 Desember in Rosedale gevind.
Dié aanval was klaarblyklik 'n wraakaanval na Pato se broer, Johnwin (19), omstreeks 01:00 die vorige nag naby sy huis doodgesteek is.
Gemeenskapslede en Pato se ouers voel dat sy aanhouding onregverdig is. "Die verdagte wat na bewering my seun, Johnwin, vermoor het is daardie selfde maand [Desember] op borgtog van R500 vrygelaat. Hoekom is ons kinders dan nog in die tronk?" het die Pato-broers se pa, John, gesê.
Brenton is blykbaar die oggend tydens die beweerde wraakaanval op Verlaat met 'n panga raakgekap. Hy is die Sondagaand na die voorval waarin Verlaat gesterf het, met 'n ernstige kopbesering na die Groote Schuur-hospitaal geneem. In sy getuienis in Februarie het Pato gesê dat hy sy kopwond opgedoen het terwyl twee van sy vriende in 'n argument betrokke was en hy tussenbeide wou tree. "Ek was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd," het hy aan die hof gesê.
Al vier die verdagtes verskyn weer wanneer Pato se regsverteenwoordiger, Stefan Kleynhans, heraansoek vir sy borgtog gaan doen. Die ander drie verdagtes word nie deur Kleynhans verteenwoordig nie.
Zukile Maqulo verskyn vir die staat en die saak dien voor landdros Phillip Mgwebile.
'n Handjie vol mense het Vrydagoggend voor hofgebeure in Eenheidspark betoog.
* A handful of Rosedale residents were picketing in front of the George Magistrate's Court building for the release of Brenton Pato (27) on Friday morning 20 April. Pato is one of the four young men charged with the murder of Gershwin Verlaat (22), in December 2017. Pato, Charldon Heynes (21), Marlen Willeman (19) and Kesharne Mostert (21) have been in custody for nearly four months. Verlaat's body was found in Rosedale on 2 December.
Lees 'n vorige artikel: Egpaar verloor byna 2 seuns op 1 naweek
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'