Update
GEORGE NUUS - "As hulle hom hier ordentlik behandel het, sou dit nie nodig gewees het om hom Groote Schuur toe te stuur nie."
Só sê John Pato van Rosedale, 'n pa wat onlangs 'n seun aan die dood moes afstaan en 'n ander aan die tronk.
Sy oudste seun, Brenton, is een van die verdagtes in die moord van Gerswhin Verlaat van Rosedale wat in Desember 2017 dood is.
Verlaat se liggaam is ná 'n beweerde wraakaanval op Saterdagaand, 2 Desember in Genesisstraat gevind.
Weens die beserings wat Pato die aand van die voorval opgedoen het, word hy in die hospitaaleenheid van die gevangenis aangehou.
Hy is klaarblyklik tydens die wraakaanval op sy broer, Johnwin, wat die vorige aand naby sy huis doodgesteek is, met 'n panga gekap.
Brenton is die Sondagaand na die voorval waarin Verlaat gesterf het, met 'n ernstige kopbesering na die Groote Schuur-hospitaal geneem.
Gebroke ouers
Volgens die Pato-seuns se pa het die dokter wat vir Brenton by die George-hospitaal behandel het, homself nie baie goed van sy taak gekwyt nie.
"Ek het daardie naweek amper albei my seuns verloor. Die wond was slordig toegewerk sonder dat dit behoorlik skoongemaak is.
"Die polisie beweer my seun is 'n verdagte in 'n moord. Hulle was so haastig om hom in die selle te kry dat hulle nie eers kon wag vir sy pynpille nie.
"Sy suster moes dit later vir hom bring," het hy aan die George Herald gesê.
"Die Sondag toe ons by die polisiestasie kom en sy toestand sien, moes ons soebat om hom by die hospitaal te kry.
"Uiteindelik het hulle toegegee. By die hospitaal aangekom het hulle hom onmiddellik Groote Schuur toe geneem.
"Dáár wou hulle weet wie die wond so swak toegewerk het. My seun is nie 'n krimineel nie en selfs nie 'n krimineel moet die behandeling kry wat hy daardie aand moes verduur nie."
John Pato voel sy seun, Brenton, word onregverdig behandel.
Bekommerde ouers
Die Pato-egpaar se grootste bekommernis tans is die behandeling wat hul seun in die gevangenis kry.
"Brenton was nog nooit in die tronk nie. Hy is nie 'n moeilikheidmaker nie. Nuwe gevangenes moet hulself bewys.
"Hulle moet iemand seermaak of leed aandoen voor hul aanvaar word deur die res.
"Hy is nog in die hospitaaleenheid en redelik veilig vir nou, maar daar kom ook kriminele daar in en lelike dinge kan gebeur."
Die Pato's is verder baie teleurgesteld in die plaaslike regstelsel.
"Die verdagte wat gevang is vir my seun, Johnwin se dood, is kort na sy inhegtenisname op borgtog vrygelaat terwyl Brenton en sy maats se saak aanhoudend uitgestel word.
"Hy het daardie aand nie eers 'n wapen by hom gehad nie. Die seuns se lewens staan stil."
Lees John Pato se volledige brief:
George-hospitaal antwoord:
Buiten talle padongelukke hanteer die hospitaal se mediese span baie gevalle met betrekking tot dwelms, alkohol, seksuele aanranding, geweld en bendeverwante beserings.
Volgens George-hospitaal se kommunikasiebeampte, Bianca Carls, word daar van alle personeellede verwag om pasiënte en hul gesinne met respek te behandel.
"Ons kan dus nie gevalle waar personeel op 'n onprofessionele wyse met pasiënte kommunikeer, duld nie.
"Ons sal enige tekortkominge in hierdie verband aanspreek. Ons wil graag meneer Pato om verskoning vra en dit duidelik stel hoe jammer ons is dat sy ervaring nie die standaard was waarna ons streef nie."
Lees die volledige brief van die hospitaal hier:
Nader Opod
"Na aanleiding van die persoon se klagtes sal ek aanbeveel dat hy, sou hy ongelukkig sou wees met die hantering van sy seun en homself, hy liefs met die Onafhanklike Polisie Ondersoek Direktoraat (OPOD) of die Wes-Kaap Ombudsman in verbinding tree," sê die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie.
"Ons bly toegewyd aan ons taak om skuldiges aan die man te bring en ook om te sorg dat almal veilig voel.
"Dit doen ons deur gehoor te gee aan die betrokke wetgewing, die land se Grondwet en Gedragskode, met inagneming van almal se grondwetlike regte."
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'