Warning: Graphic content
GEORGE NUUS - 'n Jongman van Proteapark, Alexco Figeland (28), se regterarm is geamputeer ná hy verlede maand deur drie Amerikaanse veghonde (pit bulls) aangeval en verskeur is.
Volgens Figeland se ma, Jennifer, het die voorval op 25 Julie omstreeks 11:15 in die beboste gebied tussen Proteapark en Blue Mountain Village plaasgevind toe haar seun na die Garden Route Mall onderweg was.
Figeland is na bewering deur vier jong mans met drie veghonde aangekeer waarna hulle glo die honde aangehits het om hom aan te val. Tydens die aanval is hy glo ook van sy selfoon beroof.
Volgens Jennifer het ooggetuies aanvanklik gedink dat haar seun dood is ná die gru-aanval, maar toe hulle besef hy leef het hulle dadelik sy ma laat weet en nooddienste ontbied.
Figeland is na die George-hospitaal geneem waar hy vir sy beserings behandel is. Ongelukkig kon hulle nie sy arm red nie. Hy het ook ernstige beserings aan sy linkerarm, rug en nek opgedoen.
"Toe ek my seun sien, het ek self flou geword van die skok. Ek het in die hospitaal wakker geword," vertel sy. Figeland is op sy verjaarsdag, Maandag 9 Augustus, uit die hospitaal ontslaan, maar die letsels van die aanval sal hom altyd bybly.
Die Tuinroete-DBV is intussen rakende die voorval gekontak en die honde is gekonfiskeer en van kant gemaak.
Alexco Figeland kort na hy deur drie Amerikaanse veghonde aangeval is.
"Ons het geen ander keuse gehad nie. Ongelukkig is veghonde wat mense aanval 'n uiters groot gevaar vir die samelewing en is hul kans op rehabilitasie bitter laag. Dit sal onverant-woordelik van ons wees om honde wat iemand op so 'n vlak aanval te probeer rehabiliteer. Eerstens stel ons, ons werknemers en kollegas se lewens in gevaar en uit die aard van die saak sal ons nie so 'n tipe hond met gemoedsrus kan laat aanneem nie," sê die Tuinroete-DBV se hoofinspekteur, Salomé Bruyns.
Conville-polisie se stasiebevelvoerder, kol. AB Kriga, het bevestig dat 'n saak by hulle aanhangig gemaak is.
Volgens Jennifer het ooggetuies aanvanklik gedink dat haar seun dood is ná die gru-aanval, maar toe hulle besef hy leef het hulle dadelik sy ma laat weet en nooddienste ontbied.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'